Tzaneense ruiter gesels oor perde en kinders
“Elke gesiggie wat by die stalle opdaag, straal van plesier en kan nie wag vir hul volgende les nie.”
Retha Schwab, ‘n perdeliefhebber en ruiter wat verlede jaar begin het om lesse vir kinders aan te bied.
Retha vertel sy het in Tzaneen grootgeword. “Ek was in Laerskool Tzaneen en toe in Hoërskool Ben Vorster.”
In 1997 is sy en ‘n paar vriende Engeland toe met ‘n “2-year-working-holiday-visa” vir ‘n “backpacking”-ervaring. “Wat bedoel was vir slegs twee jaar, het verander in nege jaar. Ten spyte van Britse burgerskap, twee kinders wat daar gebore is, ‘n huis, kat en karre het ons
in 2006 teruggekeer Suid-Afrika toe bloot omdat ons die land en ons mense te veel gemis het.”

Drie jaar later het hulle ‘n plasie in die pragtige heuwels van Agatha gekoop en dis hier waar sy weer haar liefde vir perde laat
voortleef het.
“My belangstelling in perde was daar vandat ek kan onthou. My pa, Dawid Grobbelaar, het my eerste perd vir my gekoop toe ek ongeveer tien jaar oud was. Van daar af was perde nog altyd deel van my lewe,” sê sy.
Vier jaar gelede het sy aan die Fauresmithuithourit in die Vrystaat deelgeneem. “Dit strek oor ‘n afstand van 204 km maar word baie goed gereguleer en oor ‘n paar dae gery. Ek en my vriend, Johan du Pont, het besluit om saam hiervoor te oefen. Ons het onsself ‘n volle jaar gegee om voor te berei. “Die Fauresmith-uithourit (en uithouritte in die algemeen) kan ‘n mens met die Comrades Marathon vergelyk. Perd en ruiter word oor ‘n lang tydperk stelselmatig fiks. Dit behels spesiale oefenprogramme, ‘n dieet, aanvullers en vele meer, als vir die perd. Ons het vir ‘n jaar lank, elke dag geoefen, behalwe oor naweke. Dit was harde werk gewees, maar uiters bevredigend.”

Sy sê hulle het stalle op die plaas gebou en kort voor lank het vriendinne gevra of hulle ook hul perde in hul mooi stalle kan aanhou. Dit het in Bryntirion Stalle en Perdrysentrum ontwikkel (Bryntition is die oorspronklike naam van die plaas en hulle het dit behou).
“Verlede jaar het ek saam met die stallering ook perdrylesse begin aanbied. Met my ervaring as kleuterskoolonderwyser Tzaneense ruiter gesels oor perde en kinders en jare se kennis en ervaring van perde, het dit sin gemaak om met perdrylesse te begin. My lesse is ‘n uur lank, wat beteken dat elke kind genoeg tyd het om saam met sy of haar perdjie te spandeer. “Kinders word touwys gemaak in ‘n wye verskeidenheid dinge rondom versorging, ry, “outrides”, en vele meer. Kinders kan aan kompetisies deelneem, soos Western Mounted Games, uithouritte, “showjumping” ensomeer. Hulle word by Bryntirion bygestaan om al hul perde-drome waar te maak!
“Kinders en perde is my passie. Om die twee te kon kombineer, is ‘n groot voorreg. Ek bied my lesse aan met nie meer as drie kinders per klas nie, elke kind het ‘n helper (myself ingesluit).

“Veiligheid is ‘n groot prioriteit en ek maak seker dat kinders van die begin af weet wat die stal en perde se reëls is.” Kontak Retha by 064 522 1514 of volg haar op Facebook: Bryntirion Stalle en Perdrysentrum.



