Kreef in Letaba-kanaal beslis die Red Claw Crayfish
‘n Varswaterkreef wat verlede maand vanuit ‘n besproeiingskanaal langs Letaba Estates getrek is, is geïdentifiseer as die Red Claw Crayfish, ‘n indringerspesie wat groot gevaar vir die ekologie van die Letabarivier inhou.

André Hoffman, ‘n akwatiese ekoloog wat betrokke was by navorsing van dié krewe wat verwoesting in die Komatirivier in Mpumalanga gesaai het, sê dit is beslis die indringerkreef.
“Dis die Cherax quadricarinatus.
Gelukkig is daar ‘n mannetjie gekry wat die identifikasie baie vergemaklik met die rooi merk op die knypers,” het Hoffman aan die Herald gesê nadat ‘n foto aan hom gestuur is.
Die vonds het aan die lig gekom toe Susan Kruger van Tzaneen dit op die Facebookblad, “S.A.
Butterflies, Bugs, Bees and other small things” geplaas het. Susan se man, Jacque Kruger van die Letabawaterverbruikersveniging het aan die Herald bevestig dat die kreef uit die Letaba Noord Kanaal tussen Letsitele en Tzaneen gehaal is tydens onderhoudwerk aan die kanaal.
Also read: Tzaneense entomoloog word opvoedkundige ‘YouTuber’
Hoffman het aan die Herald gesê dat dié krewe, soos met enige ander indringerspesie, baie vinnig aanteël. “Hulle versprei baie maklik en het bitter min natuurlike vyande.
“Die effek op die natuurlike omgewing is geweldig. Hulle vreet enigiets en het ‘n impak op die natuurlike krappe, garnale, visse en ander akwatiese organismes. “Dit is hoekom dit as ‘n kategorie 1b-organisme geklassifiseer is en niemand mag enigiets met hul doen nie.”
Hy het gesê dat plaaslike bewaringsinstansies so gou as moontlik stappe sal moet neem om die krewe in te perk.
Hoffman sê die geskiedenis van die voorkoms van die krewe in Suid-Afrika, wat oorspronklik vanaf Australië kom, is nadat ‘n persoon daarmee in Zambië wou boer.
In ‘n stadium wou die persoon op Komatipoort daarmee boer, maar die Mpumalanga-bewaringsowerhede het dit teëgestaan.
Also read: Eye-catching lilies could take a toll on grassland
“Daarna die persoon met dit in Swaziland geboer van waar dit ontsnap het en stroomaf in die Komatirivier versprei het.”
Hoffman sê dat die krewe moet deur bewaringsinstansies beheer word.
“Die publiek moet weet dat hulle dit geensins moet gebruik vir aas om mee vis te vang, in akwariums te sit of om daarmee te boer nie. Dit is alles in hierdie stadium in elke geval onwettig,” het hy gesê.
“Die onverantwoordelikheid van die mensdom maak dit vir die natuurlike omgewing baie moeilik. “Die kreef kan geëet word maar is nie so lekker as wat die mense beweer nie. In elk geval mag niemand hulle vang of hulle rondneem of skuif nie. “In die Komatipoortomgewing is gevind dat die boere wat die krewe in hul besproeiingsdamme gesit het, nou probleme het met waterplantegroei want hulle het die rooiborskurpers wat waterplante eet, uitgeroei en nou neem die waterplante oor wat probleme met besproeiing veroorsaak.”
Na die Herald se navrae blyk dit dat daar reeds planne in plek is om behoorlike navorsing oor die oorsprong en omvang die krewe te doen. Die Universiteit van Limpopo gaan glo eersdaags met ‘n opname begin om die impak op die Letabarivierekologie te bepaal.



