Local newsNews

Hoop op verhoogde damwal

Daar is hoop vir waterverbruikers en veral besproeiiers wat gebruik maak van water uit die Groter Letaba-opvangsgebied.

Die departement van water en sanitasie se beplanning om die Tzaneendam te lig vorder goed.

Volgens Jacque Kruger, voorsitter van die Letaba Waterverbruikersvereniging, is dit nie meer ‘n kwessie van jare nie, maar is dit slegs die aansoek vir werkspermitte wat uitstaande is voor die projek goedgekeur word. Die tydlyn vir die lig van die damwal kan tot tyd en wyl die permitte verkry is, nie bekend gemaak word nie.

Die Tzaneendamwal sal met drie meter gelig word om die totale bergingskapasiteit te vermeerder van 158 miljoen kubieke meter (kumeks) met ‘n verdere 35 miljoen kumeks tot 193 miljoen kumeks.

Dit sal dan ook die opbrengs vermeerder met 4 miljoen kumeks per jaar vir huishoudelike en kommersiële gebruik in die Groter Tzaneense munisipale area.
Volgens Kruger sal die Tzaneendam, wat tans 101% vol is en al vir byna drie maande oorloop, egter weer leeg gemaak moet word tot op 60%-kapasitieit om dié konstruksieprojek veilig aan te pak.

Die omvang van die projek sluit in die afbreek van die bestaande uitloop, die konstruksie van ‘n labirint-uitloop en ander kleiner werke. Tot op hede is die afbreek-konstruksie van die projek afgehandel en ‘n projekbestuurskantoor sal na die finalisering van die aanstelling van implimenteringsagente gevestig word.

Also read: TZANEEN DAMWAL: Konstruksie gaan dalk twee jaar sloer

Daar is sedert die projek in 2016 begin is ongeveer R98 miljoen spandeer en die geraamde totale koste om die projek af te handel is R555 miljoen.
Die bou van die Nwamitwadam is ook ‘n projek wat reeds onder bespreking is sedert die sewentigerjare, maar dit lyk asof dit nou, byna vyftig jaar later, ‘n realiteit gaan word.

“Die Nwamitwadam sal druk afhaal wat watervoorsiening aanbetref. Ons waterbronne is tans oorgeallokeer. Dit beteken ons het tans minder water as wat ons bestuur,” verduidelik Kruger.Die dam sal ‘n bergingskapasiteit van ongeveer 187 miljoen kumeks hê en ongeveer R3.8 biljoen kos om te bou.

Die dam sal in die Groot Letabarivier stroomaf vanwaar die Nwawedzi- en Groot Letabariviere saamvloei, gebou word. Dit is op die plaas Janetsi 463LT omtrent 1km suid van die Nkambako-nedersetting.

Die dam sal voorsiening maak vir ekologiese waterreserwes asook huishoudelike – en besproeiingswater. Die omvang van dié massiewe projek sluit in die bou van die dam, die konstruksie van twee brûe, die skuif, oftewel herbou, van drie paaie (die D1292, P43/3 en R529), asook die herbou van twee RAL-brûe en die verskuiwing en herbou van elektriese kraglyne langs die D1292-, P43/3- en R529-paaie, en die herbou en verskuiwing van die kraglyne binne die bak van die toekomstige dam. ‘n Totaal van R196 miljoen is tot dusver aan die projek gespandeer.

Die opgradering van die Nkambako-waterwerke, betrokke pyplyne en pompstasies en ‘n pyplyn na die Babanana-nedersetting word ook beoog. Die skema sal water voorsien aan die Nwamitwa-, Mawa-, Mookgo-, Hlohlokwe-, Babanana- en ander aangrensende nedersettings in die Groter Tzaneense munisipale area.
Tot op hede is R418 miljoen op die opgradering van Nkambako-waterwerke spandeer en word die totale koste beraam op R684 miljoen.

“Ons kan kyk na die projekte met optimisme. Hierdie projekte hou hoop in vir ons besproeiiers in die Letabadistrik en sal ons opvangsgebied vir seker meer droogtebestand maak,” sluit Kruger af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Emelda Tintswalo Shipalana

Tintswalo Shipalana, a journalist for the Letaba Herald, has been in the media industry for over a decade. She started her journey in radio, but ended up in print which is her first love. She joined the Herald newspaper as a cadet in 2016, where she graduated with a journalism qualification from the Caxton Training Academy. She also has a qualification in Feature Writing from the University of Cape Town and a Media Management qualification from Wits University. She is completing her BA Communication Science degree with UNISA. She sleeps well at night knowing she is a voice to the voiceless and her work contributes to promoting local talent, businesses and service delivery. Her love for her community keeps her working hard every day.

Related Articles

Back to top button