News

Tzaneeners warm onder die kraag oor advertensieborde by Minitzani

Inwoners het hul tot sosiale media gewend om hul ontevredenheid oor die munisipaliteit se verwydering van advertensieborde by Minitzani te kenne te gee.

‘n Herrie het Woensdag op sosiale media losgebars toe die Groter Tzaneense Munisipaliteit GTM) die advertensieborde wat op die palissadeheining by Minitzani opgerig is, verwyder het.

Ooggetuies sê die borde is afgeruk en meeste van die borde is onherstelbaar beskadig. Die Herald se bord is ook afgeruk.

Die kontroversie oor die Minitzani-parkie strek al etlike jare nadat ‘n inwoner, Zantelle Ras, met “Projekte Sonder Grense” begin het om die dorp se strate en parke op te knap. Minitzani was eerste op haar lys en sy het geld by sakelui ingesamel om die parkie tot sy eertydse glorie te herstel.

Ras het destyds aan die Herald gesê dat sy graag dieselfde ondervinding aan haar kinders wil bied as wat sy as kind in die parkie ervaar het. Met die hulp van die GTM is die parkie omhein, die speelparkie opgeknap en die die borde van die borge aangebring.

Sy het destyds ook onder kritiek deurgeloop omdat sy glo nie ‘n geregistreerde NPO was nie en nie die korrekte toestemming gehad het om die verbeterings aan te bring nie.

Sy het daarna die NPO gestig en het ‘n brief van die munisipale bestuurder ontvang waarin sy toestemming gegee is om die borge se advertensieborde op die palisadeheining om die parkie aan te bring.

Woensdagoggend het GTM-amptenare begin om die borde te verwyder en inwoners het hulle tot sosiale media gewend om hul frustrasie en misnoeë uit te spreek.

Ras het Woensdag aan die Herald gesê dat sy baie ontsteld is oor die gebeure. Sy woon deesdae in Vivo, maar is nog steeds nou betrokke by die projekte.

“My hart is in stukke, net soos wat ons borge se borde in stukke op die grond lê. Dit gaan nie hier gelaat word nie. Hierdie is onaanvaarbaar en barbaars teenoor ons goeie gemeenskap wat hierdie projek uit die diepte van hul hart gedoen het.”

Intussen het die Vryheidsfront se André Moss ‘n brief aan die munisipale bestuurder gestuur waarin hy sê dat hy deur ‘n vloedgolf van klagtes van inwoners oorval is na die voorval. Hy sê in die brief dat die borde van borge gevandaliseer is tydens die verwydering en dat daar geen kennisgewings vooraf gegee is nie. Daarin vra hy dat daar binne 48 uur aan hom antwoorde verskaf word.

Moss sê in die brief dat hy bewus is van inwoners wat regstappe en kriminele klagtes vir die  beskadiging van eiendom teen die GTM wil neem.

Hy sê ook dat die gebeure die inisiatief van inwoners wat graag wil bydra tot projekte om die dorp te verbeter, demp.

Vutivi Makhubela, woordvoerder van die GTM het Donderdag aan die Herald gesê dat die munisipaliteit op ‘n veldtog is om alle ongemagtigde advertensieborde in die dorp te verwyder wat nie aan munisipale regulasies voldoen nie. “Enigiemand wat oor bewyse beskik dat hulle oor die nodige toestemming beskik, moet die munisipaliteit kontak,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button