Die beskerming van ietermagôe in die kollig
Daar is slegs agt ietermagô-spesies in die wêreld en in die noorde van Suid-Afrika kom die Suider-Afrikaanse ietermagô (Smutsia temminckii) voor. Die Herald het met Dr Debbie English van Provet Wildlife Services gesels om meer te leer van hierdie bedreigde dier.
Kampvegters vir ons bedreigde wilde diere baklei al jare vir die beskerming en bewaring van die renoster, jagluiperd, wildehond en aasvoël, maar min mense is bewus van die bestaan van ‘n kwesbare soogdier, die ietermagô. Dié insekvreters is nagdiere en is oortrek is met harde, horingagtige skubbe – net die kop, maag en binne-bene het nie skubbe nie. Dié skubbe bestaan uit keratien. Die Ietermagô se enigste verweer teen natuurlike vyande en roofdiere is om homself in ‘n bal op te rol, met sy harde skubbe aan die buitekant. Hierdie selfverdedigingsgedrag sal help met ‘n honger leeu of luiperd, maar ‘n stroper dan die diertjie bloot optel soos wat ‘n kind ‘n sokkerbal optel.
Die huidige prys vir ietermagôskubbe op die swart mark is US $600 (R10,803.48) per kilogram luidens ‘n artikel geplaas op die webwerf van African Wildlife Foundation (www.awf.org) gepubliseer is.
Herald: Hoekom moet ons omgee vir die ietermagô?
Dr English: “Volgens CITES is ietermagôe gekwalifiseer as kwesbaar met ‘n dalende bevolking en hierdie is ‘n ernstige probleem. “Ek dink dat die syfers wat ons op rekord het op die aantal ietermagôe wat gestroop word nie akkuraat is nie en te optimisties is in verband met die ware getalle. In my opinie het die afname in hulle getalle weens stroping die renoster al verby gevat en word hulle in die duisende gestroop elke jaar.”
Lees ook: R150 000 raised for pangolins
Herald: Hoe lank werk jy al met ietermagôe en wat het jy by hulle geleer?
Dr English: “Ek werk al amper 3 jaar met ietermagôe en hulle het my geleer dat ek nie altyd weet wat ek gedink het ek weet nie. Hulle is soos geen ander soogdier nie en hou my op my tone. Daar is so baie om van hulle te leer.”
Herald: Wat is die grootste bedreigings vir die ietermagô?
Dr English: “Die twee grootste bedreigings vir ietermagôe is stropers en elektriese heinings. Mense het ongelukkig besef dat ietermagôe ongelooflik waardevol is. Elektriese heinings hou ‘n baie groot bedreiging in vir ietermagôe. Wanneer hulle deur ‘n heining kruip, aktiveer hulle die laagste draad op die grond, wat hulle dan skok en veroorsaak dat hulle in ‘n bal oprol, rondom die draad. So word hulle deurentyd geskok, soos wat die elektriese polse deur die draad beweeg en die meeste van hulle sterf so.”
Herald: Wat is die oplossing om hulle te beskerm teen uitwissing?
Dr English: “Dit help baie dat veeartse en rehabilitasie sentrums die diere wat gered word help om gesond te word en weer vrygelaat te word, maar dit is baie belangrik om bewusmaking te skep oor die ietermagô en sy stryd om oorlewing. Mense moet besef dat daar nie meer baie van hulle oor is nie en dat hulle die regte organisasies moet kontak indien hulle besef dat daar ‘n ietermagô is wat hulp nodig het. ‘n Ander belangrike punt wat ek wil beklemtoon is dat mense wat gelukkig genoeg is om ‘n ietermagô in die veld – soos op ‘n reservaat – te sien asseblief nie die dier onder druk moet sit nie.
Lees ook: Girls open hearts for pangolins
Moenie die dier hanteer of verblind met ‘n soeklig nie. Hulle is uiters geneig tot spanning and dit is beter om eerder die dier van ‘n respekvolle afstand af te bewonder en waardeer.”
Herald: Hoe kan die publiek die ietermagô help?
Dr English: “Daar is baie organisasies in ons area wat baie hard werk om die ietermagô te help, soos Provet Wildlife Services, Umoya Khulula Wildlife Centre en Scales Pangolin Rescue Fund. Jy kan help deur hulle te ondersteun met befondsing en bewusmaking. Sou jy vermoed dat ‘n ietermagô onwettig aangehou word, moet jy asseblief jou naaste polisie stasie of plaaslike natuurbewaring kantoor kontak.’
Die ietermagô is ‘n belangrike skakel in die voedselketting en ekologie van Suid-Afrika. Jy mag dalk nooit bevoorreg genoeg wees om een in die veld raak te sien nie, maar hulle is daar en hulle verdien ons respek en hulp; net soos die renosters, jagluiperds, wildehonde en aasvoëls.”
Die publiek kan die volgende nommers skakel om die aanhouding van ‘n ietermagô te rapporteer of om hulp te kry vir ‘n beseerde ietermagô:
LEDET by: 015 793 2471
Provet Animal Hospital by: 015 793 0797
Umoya Khulula Wildlife Centre by: 083 272 3220
Scales Pangolin Rescue Fund (Nie-Winsgewende Organisasie) by: 078 993 5678
Noodlyn vir Omgewingsmisdaad by: 0800 205 005
SAPS Hoedspruit Stasie by: 015 799 4063 / 10111



