Local news

Dorp se studiefonds vernoem na Riekie

Die Helpende Hand Tzaneen-tak het op 20 April hulde gebring aan die voormalige voorsitter, Riekie Smit, deur die tak se studiefonds na haar te vernoem tydens ‘n spoggeleentheid langs die Letaba rivier by Fairview Hotel.

Riekie was van die begin af op die bestuur van Helpende Hand Tzaneen-tak as tesourier en was voorsitter sedert 2016. Sy is in 2021 met kanker gediagnoseer en is in September verlede jaar oorlede. “Ons mis ons hoofmeisie hier by die Tzaneen-tak. Riekie was moedig, eerbaar en doelgerig. Sy het geweet wat belangrik is in die lewe en het die lewe sinryk gemaak met haar keuses. Ons het saam planne gemaak en na oplossings gesoek by Helpende Hand,” vertel Marianthie Botha, streeksorganiseerder van Helpende in Hand Limpopo.

“Riekie het diepte en wysheid in haar oë gehad. Sy was met haar ambisie en deursettingsvermoë vir ons ‘n rolmodel,” sê Marianthie. Die Tzaneen-tak het die gemeenskapstudiefonds met Riekie as voorsitter in 2016 op die been gebring. In 2017 is die eerste toekenning gemaak en sedertien het die fonds elf studente gehelp om hulle studies te voltooi. Tans ondersteun die fonds drie studente. “Die studiefondse gee geleenthede aan jongmense om selfstandig te wees. Daar is 206 studiefondse en talle gemeenskapstudiefondse waar takke se vrywilligers geld insamel om die jeug in hulle gemeenskap te ondersteun,” verduidelik Marianthie.

Lees ook: Donker skadu hang oor broodboomreservaat

Riekie se dogter, Nadine du Plessis, vertel dat dit haar ma se passie was om jongmense deur kennis te help. “Sy het in kinders belê en vreugde daarin gevind om te sien hoe hulle uitstyg en sukses behaal. Ons hoop dat die studiefonds meer en meer jongmense in ons gemeenskap sal kan ondersteun met hulle studies elke jaar,” vertel Nadine. Riekie het as deel van die direksie by Smit & Kie Makelaars en Smit Adviseurs ook seker gemaak dat die jongmense wat daar werk hulle kwalifikasies in die versekeringsindustrie najaag. “Riekie het honderde jongmense wat oor die jare hier gewerk het gehelp en gemotiveer om te studeer,” vertel Koos Smit, haar man.

Sy het selfs in haar boedel tersiêre opvoeding vir jongmense ‘n prioriteit gemaak. Een van haar beleggings is bemaak aan die Helpende Hand Tzaneen-tak se studiefonds. Na die bemaking staan die fonds se totale bedrag op meer as R1 miljoen, wat dan die Riekie Smit Gemeenskapstudiefonds die sterkste fonds vir Helpende Hand in Limpopo maak. Die gemeenskapstudiefondse staan rentevrye studielenings aan kandidate toe en die student betaal dan die leningsbedrag terug wanneer hulle klaar studeer het en begin werk. Belastingsertifikate is beskikbaar vir die wat die Helpende Hand-studiefondse ondersteun. Skakel Chanté Lamprecht op 072 677 4664 om by te dra tot die Riekie Smit Gemeenskapstudiefonds.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Anwen Mojela

Anwen Mojela is a journalist at the Letaba Herald. She graduated with an Advanced Diploma in Journalism at the Tshwane University of Technology. Including an internship and freelancing, Anwen has four years’ experience in the field and has been a permanent name in the Herald for nearly three years. Anwen’s career highlights include a water corruption investigative story when she was an intern and delving into wildlife and nature conservation. “I became a journalist mainly to be the voice of the voiceless, especially working for a community newspaper. Helping with the bit that I can, makes choosing journalism worth it.

Related Articles

Back to top button