Local news

Tzaneen-skole domineer by Dink of Sink-debatskompetisie

Sonder enige voorbereiding het jong debatteerders van vyf Limpopo-skole hul vernuf op die proef gestel by AfriForum se Dink of Sink – en Tzaneen se skole het geseëvier.

TZANEEN – AfriForum se Dink of Sink-span het op 26 Augustus die Limpopo-provinsiale uitdunronde van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders by die Hoërskool Ben Vorster aangebied.

Die kompetisie het belowende jong debatteerders van oor Limpopo heen die geleentheid gebied om hul redenasievermoë, spontane denke en openbare debatsvaardighede op die proef te stel, sonder die voordeel van vooraf voorbereiding.

Vyf skole, 39 spanne

Altesaam 117 leerders van vyf hoërskole in Limpopo het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was die Hoërskool Ben Vorster, Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Pietersburg.

Gedurende die dag het die 39 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hulle verwysingsraamwerk.

Selfvertroue en spontane denke op die proef

“Die leerders het met merkwaardige selfvertroue en entoesiasme die uitdaging van onvoorbereide debat aangepak.

“Hulle het gewys dat hulle vinnig kan dink, hul standpunte duidelik kan formuleer en sterk op hul opponente se argumente kan reageer.

“Die leerders se passie vir debat, Afrikaans en die kuns van redenasie was duidelik sigbaar en het gewys dat Limpopo oor ’n nuwe generasie talentvolle jong debatteerders beskik,” sê Nicolene Smith, AfriForum se koördineerder vir onderwys in die suidstreek.

Ben Vorster en Merensky kraai koning

In die junior kategorie (gr. 8- en 9) het die Hoërskool Ben Vorster se Tihana Venter, Donny Kachale en Weirich Vorster koning gekraai terywl Merensky Landbou Akademie se Mieke Erasmus, Alizay le Roux en Willem Mostert as die naaswenners aangekondig was.

Nicolene Smith (onderwyskoördineerder: AfriForum), Willem Mostert, Mieke Erasmus, Alizay le Roux, Alana Bailey (hoof kultuursake: AfriForum), Mari-Louise Erasmus (onderwyskoördineerder: AfriForum).

In die senior kategorie (graad 10, -11 en -12) het Merensky Landbou Akademie se Eddie Mostert, Jean de Wet en Luzaan Erasmus die goue trofee huis toe geneem terwyl die Hoërskool Ben Vorster se Juliana du Plessis, Lené Camphor en Zené de Jager as die naaswenners aangekondig was.

Nicolene Smith (onderwyskoördineerder: AfriForum), Zené de Jager, Juliana du Plessis, Lené Camphor, Alana Bailey (hoof van Kultuursake: AfriForum), Mari-Louise Erasmus (onderwyskoördineerder: AfriForum).

AfriForum sien uit na verdere ondersteuning

“Die hoërskooldebatteerders het ’n indrukwekkende vermoë getoon om vinnig te dink, standpunte onder druk te formuleer en met selfvertroue daarop te reageer.

“Hul entoesiasme en bereidwilligheid om die uitdaging van onvoorbereide debat aan te pak, was besonder opvallend.

“Ons sien daarna uit om hierdie jong debatteerders verder te ondersteun en ’n platform te bied waar hulle hul debatsvaardighede, kritiese denke en liefde vir Afrikaans kan ontwikkel en uitleef,” sluit Smith af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button