Plasie-wetenskaplikes skitter by Tritech-kompetisie
Liandri Terblanche en Izelri Theron se projekte oor skrifherkenning en 'n diabetiese waarskuwingshond het Merensky se topprys-oes vanjaar aangevoer.
TZANEEN – Merensky Landbou Akademie se jong wetenskaplikes het uitgeblink tydens die finale ronde van die Tritech nasionale kompetisie wat op 11 en 12 September plaasgevind het.
Merensky het met beide die beste junior én beste senior projek van die kompetisie weggestap.
Liandri en Izelri se projekte vee die vloer
Liandri Terblanche se projek, Terug na die toekoms: Skrif na Skrabbel, is as die beste junior projek aangewys.
Izelri Theron se projek, Snuffel Sagteware, het goud in die gesondheidswetenskappe gekry en is as die beste senior projek aangewys.
Izelri se prestasie is ’n besonder gepaste afsluiting van haar Tritech-loopbaan. Sy neem reeds sedert gr. 8 aan Tritech deel en het elke jaar uitstekend presteer. Haar navorsing vanjaar het ondersoek ingestel na die vermoë van ’n selfopgeleide diabetiese waarskuwingshond om lae bloedsuikervlakke deur middel van reuk op te spoor.
Meer Merensky-leerders behaal goud
Ander presteerders wat goue toekennings gekry het is Milan Ferreira en Maryna Jacobsz met hul projek Fish-away, Emma Stewart en Alison Glanvill met The Five Kingdom Bandages, William Fouché met Digital Street Smarts, Chanté van Wyk en Meegan Baragwanath met ’n Druk brein mis die sein, Eddie Mostert met Trapkrag – Verlig ’n gemeenskap, Chantene Schoeman met Borrelende Wetenskap – van suiker tot etanol, MJ Pohl met ’n Hengelaar se Redding, Marika Marx met Is jy Timon of Pumbaa? en Medene Malan met Gesondheid uit die grond uit.
Silwer en brons toekennings ook uitgedeel
Silwer toekennings is aan Melissa Malan toegeken vir Die groot deklaag geveg! en Karina Swanepoel met Klein gogga, groot aptyt.
Brons toekennings het gegaan aan Reabetswe Ramahlako met PulmoDetect: TB Risk Screening en Bonolo Michelle Makgoba met MissB’s Cosmetics.




