
Die uurglas van 2014 is so te sê uitgeloop en ons kan terug kyk na ‘n jaar wat vele uitdagings, tog goeie toestande, vir die landbouer gebied het.
Soos almal weet is ons as landbouers totaal afhanklik van die klimaat en ons Hemelse Vader se genade. Ons het ‘n goeie reënseisoen ervaar en meeste dam vlakke is gunstig wat so gebly het deur die jaar. Ons is aan die begin van die volgende reënseisoen en dit wil voorkom of ons eers laat reën gaan kry. Kom ons hoop die weer “profete” het goeie nuus vir dit wat kom !
Agri Letaba het in die begin van 2014 ‘n baie suksesvolle Agri Erkenningsaand aangebied waar daar erkenning gegee is aan sekere individue wat groot bydra, of bygedra het, vir Agri Letaba en sy streek. Zander Ernst is aangewys as Agri Limpopo se jongboer van die jaar vir 2014. Daarmee saam het ons ook vir Emuel O’Connel as finalis gehad by Agri Limpopo se jongboer van die jaar. Baie geluk weereens aan altwee van julle. Onlangs is die Bosveld Groep ook aangewys as Limpopo Noord Boer van die jaar. Voorwaar ‘n prestasie en ons wens hulle sterkte toe met die finale aankondiging, nasionaal.
Op arbeidsvlak is daar baie uitdagings. Minimum lone, korporatiewe permitte, arbeids inspeksies is maar ‘n paar om te noem. Hier wil ek vir Renier Snyman van die Bosveld groep bedank vir sy bydrae en insette, dit word waardeer. Vele vergaderings en besoeke is deur bestuur bygewoon. Die verwagte afkondiging van die nuwe minimum loon vlak word binnekort verwag, waar 1 Maart 2015 tot 29 Februarie 2016 se minimum loon bekend gemaak sal word. Die gazette se woorde was “previous year’s minimum wage + CPI + 1.5%”. Die onrus twee jaar gelede in die WesKaap is vir die hele land onrusbarend en ons in Limpopo kan die volgende teiken wees. Hiermee dan weer ‘n beroep op alle lede om hul huis in stand te hou volgens regulasies.
Tzaneen dam staan huideiglik net so bo die 80% vlak en ons is in ‘n bevoorregte posisie tov water beskikbaarheid. Beheerrade is in plek in ons omgewing, maar streng maatreëls is steeds in plek om voorsiening te probeer maak vir die moeilike tye. Op regerings vlakke is daar woelinge om die CMA’s in plek te kry en ons moet wakker wees en deelneem aan alle pogings hieroor. Ons moet toon dat ons op grondvlak die vermoeë het om plaaslike beheer uit te oefen.
Grondhervorming bly ‘n warm onderwerp en veroorsaak baie onsekerhede en debat. Die grondeise proses is weereens oopgestel en enige iemand het tyd tot einde Desember 2018 om nuwe eise in te dien. As boer kan jy dit nie bekostig om jou boerdery bedrywighede en ontwikkelinge tot halt te roep sodra die swaard van ‘n moontlikke eis oor jou plaas hang nie. Ons sal altyd voort boer.
Ons is baie opgewonde oor die Agri Limpopo kantoor en sy span in Polokwane. Willem van Jaarsveld het ‘n nuwe asem van entoesiasme en momentum teweeg gebring waarmee hy baie balle in die lug hou ! Agri Limpopo se verskillende regerings departemente is besig om substantieel kennis te neem van georganiseerde landbou in die provinsie en mens kan dit sien in die bywoning van ons pas afgelope kongres en arbeids werkswinkel gehou te Polokwane. Ledegetalle en nuwe boereverenigings is besig om te realiseer en ongekende belangstelling is besig om oral op te vlam. Baie dankie Willem, bou voort met goeie werk.
Agri Letaba sou graag wil glo hy maak ‘n verskil vir sy lede asook die boere in ons streek. Ek wil ‘n beroep doen op lede, asook nie lede, om Agri Letaba te kontak en te ondersteun deur opbouende voorstelle te maak oor hoe om Agri Letaba ‘n beter dienende organisasie te maak vir ons omgewing se boere. Daar is ‘n magdom “human capital” in ons streekwat ontgin moet word.
Dankie aan Fanie van Jaarsveld wat vir die jaar gedien het as ondervoorsitter, maar weens sy uitbreidings in sy boerdery, nie meer op die bestuur kon dien nie. Aan die huidige bestuur, baie dankie vir julle insette. Welkom ook aan Chris van Eck wat as addisionele lid dien. Spesiale dank aan Corrie Labuschagne vir die bestuur van die skou.
“As jy oor die boer wil kla, moet dit nie met ‘n mond vol kos doen nie !”
Voorspoed en vrede vir die kersseisoen.