Bobaasrugby by Plasies
Die opwinding was tasbaar op Plasiepark toe Merensky Landbou Akademie se rugbyspanne vir die eerste keer in die nuwe Afdeling 1 (Bowl) teen Hoërskool Eldoraigne kragte gemeet het.

Die telbord het dalk nie die ware toedrag van sake gereflekteer nie, maar toeskouers is op bobaas-rugby getrakteer. Die o14A-kalfies het eerste op die veld verskyn en naelskraap met 19-20 verloor. Die o14Bspan het die bordjies verhang en trots met ‘n 28-14 oorwinning van die veld gestap. Die o15’s het goeie rugby gespeel, maar moes met ‘n 16-20 vir die A-span en 20-23 puntetelling vir die B-span, die knie teen die besoekers gebuig.
Met ‘n 14-17 telling het die o16A-span ook bes gegee, terwyl die Eldos se o16B-span die kous oor die Plasies se kop getrek het met ‘n 0-31 telling. Plasieland se tweedes het hul man gestaan en Eldoraigne met 7-0 geklop in ‘n taai wedstryd. Die derdespan het hul wedstryd met 5-10 verloor.
Lees ook: Agri-Merensky is beslis skougehalte
Die eerstespanne was in ‘n titaniese stryd gewikkel. Die blou trots het vroeg in die wedstryd die voortou geneem met twee vinnige drieë deur Klokke Mohlala en Mahlatse Semosa, wat albei deur Byron Hendricks verdoel is. Clifford Ledwaba het ook agter die doellyn gaan kuier om vyf punte aan te teken en Hendricks se skopskoen het gesorg dat die drie verdoel word.
Hendricks het die telbord verder laat rol met twee suksesvolle strafskoppe. Dirk de Nysschen het in die tweede helfte ook die doellyn opgesoek om ‘n drie te druk vir die Plasies wat suksesvol deur Hendricks verdoel is. Dit is uiteindelik die Plasies wat die wedstryd met 32 22 wen. Die volgende ligawedstryd word weg gespeel by Hoërskool Alberton op 27 Mei.











