(Ek is steeds op reis om inligting vir ‘n rugbyboek in te samel. Die naweek het ek die voorreg gehad om saam met oom Frik du Preez en sy vrou, tannie Bes, op Johan Botha se wildplaas naby Zeerust te kuier. Hierdie is slegs ‘n paar kort aantekeninge.)
SMASH PANELBEATERS
Ry Vrydagoggend vroeg uit Pretoria na oom Frik toe. Rustenburg se koers. Naby Hekpoort bel hy.
Hallo, dis Victor Matfield wat praat, sê hy, en lag. Verdwaal jy? Is jy oraait?
Hy verduidelik weer vir my die pad na sy aftreeplasie teen die Magaliesberg.
Hierdie reis neem my op onvoorsiene paaie: Hier ry ek, ’n middeljarige man, na die groot held van my kindertyd, op soek na iets waarvoor ek nog nie heeltemal die woorde het nie. By my huis het ek nog die plakboek met hordes foto’s van hom in wat ek uit koerante en tydskrifte geknip het toe ek agt of nege jaar oud was.
Nou, meer as vyftig jaar later, hou ek op sy werf stil en kom sy groot regop gestalte by die voordeur uit. Sy hande – ’n mens kan daardie groot, knoetserige hande nie miskyk nie.
Teen die toegeboude voorstoep se mure hang foto’s van hom saam met Nelson Mandela, en saam met Victor Matfield, en saam met… Eenkant staan ’n kitaar.
Kom sommer saam met my en Bes Bosveld toe, het hy vroeër in die week gesê toe ek ’n kans vat en hom bel en vra of hy sal omgee as ek saam met hom na die wedstryd tussen die Bokke en Skotland oor die TV kyk.
Sy dubbelkajuit-Nissan is klaar gepak. Kleinjan Masekoane gaan ook saam. Kleinjan – hy is al by die 30 – woon by oom Frik-hulle vandat hy 5 jaar oud is. Kleinjan se pa en ma het by oom Frik-hulle gewerk toe hulle nog op ’n plaas naby Bray geboer het.
Mense openbaar hul ware menslikheid aan jou in klein dingetjies eerder as in groot gebare, besef ek al hoe meer: Naby Derby vra tannie Bes met wie oom Frik al 34 jaar getroud is: “Kan ek vir julle broodjies aangee?” A, padkos! Op Koster gaan wys oom Frik vir ons ’n Wimpy Bar wat toegemaak het. Iets is nie reg op ’n dorp waar ’n Wimpy moet toemaak nie. Regs is ’n teken langs die pad: “Smash Panelbeaters”. Oom Frik lees dit, en lag. Ek lag ook. Smash Panel Beaters. ’n Paneelklopper met ’n natuurlike aanvoeling vir ironie.
Op Swartruggens wys oom Frik, wat in Dwaalboom se wêreld gebore is, vir ons die kerk waarin hy gedoop is.
Die Marico-Bosveld vou dynserig voor ons oop en oom Frik begin praat oor Mof Myburgh, sy boesemvriend wat hoe lank saam met hom vir Noord-Transvaal en die Bokke gespeel het. In 1962 speel hulle teen die Leeus op Nuweland, sê hy. Voor hulle opdraf, staan die twee spanne in die tonnel onder Nuweland se hoofpawiljoen. Willie-John McBride, die Leeu-slot, staan langs Mof. McBride probeer ’n geselssie met Mof aanknoop. “There is not much grass out there,” sê McBride en beduie na die veld. Mof kyk so skuinserig na McBride, en antwoord: “Listen, I did not come here to graze.”
Op Zeerust koop tannie Bes vir oom Frik ’n roomys – ’n doodeenvoudige ouwêreldse waffer.
“Frik was 12 jaar oud,” sê sy, “toe hy die eerste keer in sy lewe ’n roomys gesien het.”
“Dit was Potgietersrus,” beaam oom Frik.
Tarentale begin in die bakkie roep. Dis oom Frik se selfoondeuntjie. “Hallo, dis Fourie du Preez,” antwoord hy, en lag. Hy praat met iemand oor ’n golfdag.
Die plaas – ’n wildsplaas – lê noord van Zeerust en behoort aan Johan Botha, ’n boer en sakeman van Lichtenburg. Maar net Johan se Thai-vriendin, Nion, kom uit die huis toe ons op die werf stilhou. Johan is saam met die polisie na ’n ander gedeelte van die plaas waar diewe sonpanelle, ’n kragopwekker en ander goed gesteel het.
Misdaad reis die hele pad nog met my saam deur hierdie vernielde land. ’n Paar dae tevore, op Tzaneen, het iemand my huurkar se deur probeer oopbreek.
Ons gaan sit op die stoep, ek en oom Frik. Rondom ons laat bewe die sonbesies die aarde. Dit is droog. Die veld is kaal. Glase verskyn voor ons, whiskey, water, ys. We did not come here to graze.
Een ding het hierdie reis my van genees: Ek sal nooit weer kan glo rugby is net ’n spel nie. Rugby het lankal sy onskuld verloor. Rugby is ’n koors, ’n desperate Saterdagmiddag-droom op ’n blou Maandagoggend, ’n onrymbare gedig.
Rugby is om te hoor hoe Frik du Preez vertel hoe die betogers hulle in 1969/70 uitgejou het toe hulle deur Brittanje getoer het: “Go back home, you rassist scum! You fassist pigs!…”
Oom Frik wat jare later vir Kleinjan Masekoane soos sy eie kind sou help grootmaak.
Later kom Johan terug. Gelukkig het hulle darem nie die groot kragopwekker gesteel nie, sê hy. Ons sal die rugby kan kyk. Skink nog ’n whisky daar. Oom Frik lig sy glas. “Hierie een van my loop soos ’n muis met slippers aan,” sê hy.
Ons ry saam met Johan die veld in. Oom Frik wys die bome een na die ander vir my uit, asof dit ou vriende van hom is: Kameeldoring, Raasblaar, Matoppi…
’n Polisieman is besig om na vingerafdrukke te soek op die stellasie in die veld waarop die gesteelde sonpaneel was. Die sonpaneel het ’n waterpomp aangedryf. Die polisieman het sy vrou – of meisie? – saamgebring na die toneel toe. Sy sit in die polisiebakkie, in ’n rooi rok, en luister musiek.
“Oom Frik,” sê Kleinjan. “Kan ek oom iets vra?”
“Wat is dit, Kleinjan?”
“As ek so ’n kak was, wat sou oom gedoen het?”
Oom Frik sê niks nie. Hy lag net.
Hy word in November tagtig jaar oud. Hy speel nog golf van ’n 12-voorgee af, en hy ry saam met ons agterop die bakkie. By ’n ander sinkdam in die veld klim hy van die bakkie af en gaan hou sy mond onder die silwer stroom water wat uit die pyp kom.
Die middag word later aand, en die aand word ’n nag vol jakkalse wat roep, en dan is dit weer oggend, en my opneemmasjien sluk nog stories in, en dan is dit middag en die Bokke draf op die veld in Engeland op die TV se skerm in die Bosveld terwyl die duiwe buite in die bome koer.
Oom Frik is nie ’n luiddrugtige, beterweterige rugbykyker nie. In die eerste vier minute gee die Bokke – Willie le Roux, Fourie du Preez en JP Pietersen – drie hoë skoppe waarvan niks kom nie. Casino-rugby.
“Hulle speel seker volgens die wedstrydplan,” brom oom Frik.
Die Wedstrydplan: vernietiger van kreatiwiteit.
Iewers in die tweede helfde is Lood de Jager se gesig skielik op die TV se skerm. “Ou Lood sukkel dalk om ’n baard gegroei te kry,” sê oom Frik, “maar hy het ’n blêddie goeie wedstryd.”
Hy het sy vriend Mof ook Lood genoem, want Mof se regte name was Johannes Lodewikus.
Ná die wedstryd gaan sit ons by die vuur in die lapa. Oom Frik vertel hoe Mof die huidge Bok-stutte voos sou geskrum het. Mof is drie jaar gelede oorlede. Dawie de Villiers, ’n ander spanmaat van hulle, is tans ernstig siek.
Die gesprek swenk weg van rugby af. Die lae Bosveldse sterre is geneig om dit aan ’n mens te doen.
Hy kan nie kla oor sy gesonheid nie, sê oom Frik. Hy lê net soms sy een arm in die nag dood.
Wat is die geheim vir sy goeie gesondheid? vra ek.
Genade, sê tannie Bes.
Bes is reg, sê oom Frik. Genade.
Lank sit ons toegevou in die stilte. Later se oom Frik: “Smash Panelbeaters” Net dit, daardie twee woorde: Smash Panelbeaters – en lag weer. Ek lag ook. Ons lag teen die donker in.
Dis nie altyd goed vir ’n mens om die held van jou kleintyd te ontmoet nie, het ek al gedink. Dit kan ’n teleurstellende ondervinding wees.
Dis nou as jou held nie Frik du Preez was nie.





