Die gedagte het by my opgekom toe ek die foto van dié boom wat nou “‘n-vriendin-ma” vir my is, in ‘n buurland afgeneem het.
Die nuuskierige agie wat ek is het my na so bietjie navorsing laat lei..
Op die webtuiste, Mieliestronk lees ek toe die van dié ‘Onderstebo-boom.’
Daar is iets omtrent die vorm, lees ek.
‘n Tipiese suigstokkielekker-fatsoen, ‘n Lang, smal stam met uitgestrekte takke.
Is die meeste ma’s dan ook nie so nie. Want meer as een hand is mos maar soms nodig.
Die groeitoestande is vir party ook moeilik, en daarom het party bome (ma’s) ‘n ander vorm om beter te kan oorleef!
Dit is dan ook die bome (ma’s) wat van die verbasendste stamme het van al die bome.
Die fatsoen is soms eienaardig, maar die reuse reservoir (hart) is altyd daar vir dorre tye.
Die water kom van die wortels af wat elke druppel opraap.
Ma’s se voete is stewig in die aarde geplant, dus weet hulle ook waar David die wortels begrawe het en moet jy ‘my ma weet altyd beter’ nie ligtelik opvat nie.
Daar is ook verdeelde blaartjies aan die takke (kinders) en daar is groot wit blomme met hulle meeldrade wat hang aan lang tou agtige stingels soos sprokieslanterns.
Die blomme gaan snags oop, dit ontwikkel later tot houterige vrugte wat in ‘n smaaklike pulp omhul is en sade wat daarin lê.
Die stuifmeel kan in gom omskep word en hoeveel keer was/is jou ma se hulp en raad nie maar die enigste gom wat die stukke van jou omstandighede maar net weer probeer las nie.
Bobbejane is baie lief vir die pulp.
Maar dit is ook mense wat dit eet as versnapperinig en word gebruik om kos te kruie.
Want wie se resep is nou nie beter as jou ma s’n nie. Die bas kan ook as plaasvervanger vir die geneesmiddel kinien gebruik word… watter boereraat het ons nie al ooit probeer nie.
Komaan, kom ons wees nou maar eerlik.
Die boom het ook baie ander gebruike en die basvesel kan gebruik word vir papier, verpakkingsmateriaal, doek en tou kan van die vesel gemaak word.
Die blare kan ook geëet word.
Papier: Lees wysmaak en om die ‘Grootboek’ te lees.
Verpakkingsmateriaal.
Want die breekbaarste porselein seer kan sy met sagte woorde beter maak om met ‘veilige’ woorde dit diep in jou hartskamer boks weg te pak sodat jy dit later weer kan uithaal, uit te haal en te onthou.
Doek en tou: Sy het jou doeke geruil en die tou was daar as ‘n reddingstou wanneer jy dit die nodigste gehad het, daar was jy voel jy hang by ‘n krans af.
Blare wat geëet kan word: Want niks is lekkerder as jou ma se kos nie. NIKS en Niemand.
Dit help nie hoeveel keer jy probeer nie, daar kort net altyd daardie iets-van ‘n ma se bord kos of resep wat makeer.
Met die sponsagtige hout word dit gebruik as timmerhout.
Kanos, vlotte, vissersnette en waterhouers word gemaak. Party mense beskou die boom as ‘n gerieflike onderdak en hol hom van binne uit.
‘n Kano: Saam oor troebel water met haar aan stuur want sy ken elke golwe deining van die rivier.
Haar spaan ken van roei, en hoef jy maar selde jou reddingsbaadjie te dra.
Vissersnette: Net daardie terugvangs as jy dalk die verkeerde besluit maak in die oseaan van die lewe of op die verkeerde roete begin stap.
Sy het jou mos altyd geleer, bly op die N1 en moet nie die afdraaipaadjies vat nie.
Al bring dit jou vinniger by jou bestemming uit en jy probeer tolhekke vermy, gaan jy dalk net vedwaal.
Die lewe se atlas is vol van daardie paadjies.
En dan is daar die waterhouers, waar daar altyd wyshede in is waarvan jy kan drink todat jou dors versadig is van vrae vra, van hoekom, wanneer, en waarom.
Maar ons moet nie die bejaarde kreMAtart vergeet nie, ons oumas en oumagrooitjies, hulle kan hulle eie ekosisteem ondersteun, of dit nou ouma se vier by vier, haar rolstoel kierie is.
Sy bly daar tot die laaste wortel nie meer wil water ineem nie, want baie organismes, (kleinkinders agter- en soms agter-agter kleinkinders is afhanlik van die ‘bejaardeboom’.
Want daar word nes gemak in die takke, dalk ouma se gebreide handewerk of daardie laslappieskombers, bobbejane verslind die vrugte, ouma se soet-gebak en nagape drink die nektar, dalk ‘n ou spookstorie, boereraad of ‘n verhaal soos destyds dit is soms pitkos en bestuif ons met ouma se stories om eendag dalk weer oor te vertel..
Die boom is die ‘metusalem’ in die boomryk en al kan ons ma’s nie duisende jare oud word, soos ons almal wil hê nie, en al lyk haar kop soms onderstebo, en die takke soos ‘n ‘bad hair day ‘, is die KreMAtart, ons ma’s se voete stewig in moeder aarde geplant.
En as hulle nie meer daar is nie. Verwonder jou maar net aan die foto.
Want die boom is die koningin van die boomryk en so is/was jou ma.
Nog beter, gaan na ‘n kremetartboom, hier is baie in ons omgewing.
Hang ‘n mandjie met jou herinneringe of dankbaarheid daarin.
Onthou, jy sal ‘n leer moet saam neem want die takke sit hoog.
Maak jou rus-sit op een van die ‘hande’, smul aan een van haar lekkerste onthou-koekie herrineringe.
Kyk na die son wat sak.
In kleure van koper en pienk soos die kleure van die boom se bas, en onthou sy sal/het daar bly staan.
Soos die son gesak het, soos die maan sy kop begin uitsteek het, daar gestaan deur wind en weer.
Die ergste koue en hitte vir jou trotseer het.
En die reën wat geval het, het sy eerder meer laat opgaar in daardie ‘hart-reservoir’ vir wanneer jy dit die nodigste gehad het, al was sy dalk dorser as jy.



