VIDEO – Krok vreet aan hoenders in kanaal
Meeste mense sal, wanneer hul 'n slang, likkewaan of selfs 'n padda sien, die hasepad kies, wat nog gepraat van 'n krokodil!
Mnr. Arthur Roden, ‘n slangvanger van NSARRU (National Council of South African Reptile Rescue Units), het ‘n Nylkrokodil van drie meter lank in die kanaal tussen Serengeti en Bushfellows Lodge gevang.
Mnr. Roden het ‘n oproep ontvang dat ‘n krokodil vir ‘n geruime tyd in die kanaal vasgevang is. Hy is gevra om die krokodil te vang.
“Die krokodil, wat al vir ‘n week in die kanaal vrylik rondswem, is al deur mense van Serengeti hoenders gevoer. As ons nie hierdie krokodil gehelp het nie, sou hy nie self uit die kanaal kon kom nie,” sê mnr. Roden.
Na ‘n geruime tyd, ‘n gestoei en gespartel het mnr. Roden, met behulp van mnr en me. Charl en Mercia Blake, asook Bellum Sekuriteit, die krokodil gevang.
Daar is ‘n band om sy bek gedraai om te verseker dat niemand ‘n vinger of hand in die proses verloor nie.
Mnr. Roden het die krokodil veilig in die Olifantsrivier naby die Schuinsdraai Natuurreservaat vrygelaat.
• Hy bedank me. en mnr. Blake asook Bellum sekuriteit vir hul hulp en bystand.
