News

Dogter sukkel om pa se moord te verwerk

Elf maande na haar man se moord, het ’n familie steeds geen antwoorde gekry nie en sukkel veral die dogter om finaliteit te kry oor haar pa se dood.

“Alles hang so in die lug,” sê me. Retha Moorcroft van die gebeure op Desember 2016 waar haar man, Clint, koelbloedig doodgeskiet is.

Omdat net ’n selfoon en haar hangertjie geroof is, wonder hulle of dit nie ’n huurmoord was nie.

Lees: Wie het Middelburg se geliefde oudioloog vermoor?

Shené sê dat as dit wel ’n huurmoord was, wil sy daardie persoon vra wat haar pa aan hom gedoen het dat hy op so ’n manier moes doodgemaak word en uit hul lewens geruk moes word.

 

Me. Moorcroft sê hulle kan dit egter nie bewys nie.

“Waar begin ’n mens na bewyse soek? Clint het altyd die vrede bewaar, hy het nooit baklei nie. Wie sou hom dan wou doodmaak? Hy was so ’n dinamiese man.”

Sy sê as hulle regtig wou roof en moor, is dit vir haar vreemd dat hulle haar nie ook leed aangedoen het nie.

Me. Moorcroft sê haar dogter het na haar pa se dood leer skiet.

Syself het twee weke gelede vir die eerste keer in haar lewe ’n wapen in haar hand gehad tydens ’n proefskietlopie. Die oomblik toe die eerste skoot klap, het sy vir ’n breukdeel van ’n sekonde weer die nag se gebeure herleef.

“Daardie klank sal jy nooit vergeet nie.”

Me. Moorcroft het na haar man se dood sowat R50 000 spandeer aan veiligheid in en om haar huis.
Sy het haar aanvanklik omtrent ook heeltemal afgesluit van “slegte nuus”.

 

 

Sy vertel hoe sy in die aande omstreeks 17:00 die blinders toegetrek en op die bank gaan sit het met die honde by haar.

“As die hond begin blaf het, het ek op die bank gesit en vorentoe gekyk. Dit het gevoel asof daar klaar iemand in die huis is. Ek het gewag dat hulle moet instap met vuurwapens en balaklawas oor hul gesigte.”

• Beide me. Moorcroft en haar dogter het vir sielkundige berading gegaan na die moord.

Ondersteuning is ongelooflik

Die ondersteuning wat sy sedert die dag van haar man se moord ontvang het, kan sy net as ‘amazing’ beskryf.

So sê Retha Moorcroft, wat die afgelope elf maande staande gehou is deur die gemeenskap se ondersteuning.

Sy vertel hoe dankbaar sy is dat sy en haar man net drie maande voor sy dood nog saam gaan blomme kyk en saam vakansie hou het. Dit is die laaste lang vakansie saam.

Na sy dood het sy besef hoe baie haar man nie net vir sy familie beteken het nie, maar ook vir ander mense.

 

 

Mense van regoor die wêreld af het met hulle gesimpatiseer, omdat hy baie betrokke was by die myne.

Hy het vele vennootskappe gehad met familie en vriende en na sy dood kon hulle aangaan met hul besighede.

In hierdie routydperk het sy ook agtergekom hoeveel mense vir mekaar omgee. “Ek het soveel nuwe vriende gemaak,” het sy dankbaar gesê.

“Van my kinders en skoonkinders, Shené, Rikus, Retha en Driaan, tot by die verwer wat in my huis kom bly het om my op te pas, my buurvrou, Mariska, ons vriende en die gemeenskap. Ek kan nie begin om te verduidelik hoe goed almal was vir my nie.”

• Elke belangrike datum, soos verjaardae, Valentynsdag en Kersfees, wéét sy gaan in die volgende jare baie moeilik wees.

Op Valentynsdag hierdie jaar het sy met ’n swaar hart opgestaan, want Clint het altyd vir haar iets gegee, al was dit net ’n potplantjie.

 

 

Die oomblik toe sy tuiskom, het daar ’n groot bos blomme vir haar gewag van haar seun, Rikus, af. Hy het vir haar gesê sy pa is nie meer daar nie, maar hy sal altyd daar wees vir haar.

• Met haar verjaardag het sy by Plantoperandi gaan koffie drink en vir vriendinne laat weet as hulle dalk ’n draai wil kom maak. Haar vriendinne het in massas opgedaag.

• Spesiale “Trooskomberse” is vir die gesin gemaak.

Ander nuus:

Is daar grafte, swart grafte, onder meenthuise?

‘Belfast Boef’ landwyd gesoek

Mosambieker geskiet, misdaad skielik minder

Seun sterf na val van bakkie

Trane soos riviere by prysuitdeling

Nuus op ’n drafstap

Kry nuus op ’n drafstap. Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) op jou foon, stuur ’n WhatsApp boodskap met die woorde “Add me” om nuus flits skakels op jou foon te kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button