Gesteelde spoorstawe dalk na Sjina of Indië uitgevoer
“Waar is die spoorlyn?” So het treindrywers al ’n paar keer uitgeroep, nadat spoorstaafdiewe toegeslaan het.

Die een oomblik was daar nog ’n spoorlyn, die volgende oomblik was hy weg.
Daarom was die arrestasie van spoorstaafdiewe op Middelburg vir ’n stoomlokomotief fanatikus, Julie Jansen van Rensburg, sulke goeie nuus
“Wonderlike nuus vanoggend om te lees dat ’n klomp spoorlyndiewe gevang is – ek koester die stille hoop dat dit dieselfde groep is wat in Maart vanjaar (weereens) ’n seksie van die Pretoria–Cullinan-lyn gesteel het (iets wat verskeie kere al op daardie roete gebeur het) dan later tussen Carolina en Machadodorp; en as ek reg onthou iewers in die Vrystaat (Heilbron),” sê sy.
Read: Railway track thieves ambushed by police

Spoorweg-aanhangers spekuleer dat die stawe in houers gelaai en òf na Sjina òf na Indië verskeep word.
“Maak geen fout nie, hulle is baie goed georganiseerd.”
Sy het ’n foto aangeheg van oorlede David Shephard se lokomotief, 15F nr 3052 wat op 21 Maart vanaf Pretoria na Cullinan ’n toeriste-trein getrek het. Die Cullinan- mense het juis die vorige dag (Vrydag, 20 Maart) lyn-inspeksie gedoen en alles was honderd persent reg vir die Saterdag se rit – maar onwetend is sowat 120 meter spoorstawe gedurende die nag gesteel.

“Ons van REEFSTEAMERS, Germiston het Avril juis vir Friends of the Rail geleen omdat hulle 15F, nr 3117, in 2010 ook ontspoor en op haar linkersy beland het, nadat diewe hout dwarslêers naby Cullinan onder die spoorlyn uit gesteel het. Omdat FOTR maar ’n klein groep is, werk hulle maar wanneer moontlik aan 3117 om hom weer aan die gang te kry en kan hulle met hulle huidige trekkrag, Kl. 24 nr 3664 net ’n beperkte aantal rytuie aanhaak.”
Rovos Rail het goedgunstiglik een van hulle diesels beskikbaar gestel om Avril na die depot in Germiston terug te sleep.
“Gelukkig het sy nie baie erg ‘seergekry’ nie – haar baanveër moes vervang word en sy het so ’n paar skrape aan haar onderstel opgedoen, maar gelukkig was dit – om dit in menslike terme te stel – ‘salf-en-pleister tipe skade’.

Die Carolina-Machadodorp lyn is ook ’n goedere-lyn, maar die diewe gee nie ’n dooie duit om nie – hulle beskou dit as hulle reg om alles te steel wat hulle kan.
Me. Jansen van Rensburg sê hulle vrees vir die dag wanneer die diewe op ’n hooflyn toeslaan en steel wat hulle kan alvorens die volgende volgelaaide trein – hetsy goedere of passasiers – verwag word.
•’n Trok vol spoorstawe is verlede week op Middelburg voorgekeer en verskeie mans is aangekeer.
Ander nuus:
Is daar grafte, swart grafte, onder meenthuise?
Mosambieker geskiet, misdaad skielik minder
Trane soos riviere by prysuitdeling
Nuus op ’n drafstap
Kry nuus op ’n drafstap. Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) op jou foon, stuur ’n WhatsApp boodskap met die woorde “Add me” om nuus flits skakels op jou foon te kry.
