Pastoor trou ‘oorwinnaar’
’n Jong man wat al drie jaar bevry is van dwelms nadat hy by die Oorwinnaarshuis in Middelburg was, het die pastoor wat die huis bestuur, gevra om hom te trou.

Craig Goat het past. Jannie Jacobs, wat aan die stuur van sake staan by die Oorwinnaarshuis vir dwelmafhanklike mans, gevra om hom in April te trou.
In ’n brief vertel hy van sy stryd teen dwelms, maar sê heel eerste bo aan sy brief: “As ek dit kon oorwin, kan enigiemand dit doen. Ek is drie jaar verlos van heroïne en ander dwelms. Ek vertel my verhaal om ouers hoop te gee.”
Craig het presteer in rugby, “maar ek het in ’n huis groot geword waar ek baie vryheid gekry het, ek het altyd saam met ouer vriende gaan kuier.”
Hy is deur ’n familielid voorgestel aan ’n ander jong man, “wat soos ’n broer vir my was.”
Craig vertel hoe hy saam met hom begin het om dwelms te toets, “maar heroïne was my addiction.”
Lees ook: Inspirerende verhaal gryp die wêreld aan
In agt jaar was hy by vyf rehabilitasiesentrums en by van hulle meer as twee keer.
“Al wanneer ek skoon was, was toe ek in ’n rehabilitasiesentrum was. Van daar af het ek net weer stadig begin agteruit gaan saam met vriende.”
Hy onthou die dag toe hy sewe keer in 12 dae ’n oordosis ingekry het.
“Die paramedici het die sewende keer vir my ma gesê dat hulle nie meer gaan uitry na hulle huis toe nie. Juis omdat ek nie wou luister nie. My organe was besig om in te gee, maar ek het nie omgegee hoeveel dwelms in my sisteem was nie.”
Sy oupa het besluit dat hy eerder die huis moet verlaat, omdat sy susters ook daar gebly het. Hy was op straat in eMalahleni en het by die Klipfonteindam geslaap.
Craig sê hy het nie daarvan gehou om te bedel nie, omdat hy skaam was vir sy verslawing.
“My enigste opsie was om die dealers te beroof en aan te rand.”
Hy vertel hoe hy kwaad geword het vir homself en alles en almal om hom.
“Ek het depressief geraak, omdat ek verslaaf was aan iets wat my lewe, familie en vriende net so seer gemaak het.”
Lees ook: Dwelms, moord, oorwinning!
Een aand het hy besluit om te bid: “Abba Vader, groot en heilige God, ek is moeg, kwaad en nie meer lus vir die lewe nie. Sal U more vir my hulp stuur of moet ek eerder my lewe neem?’ Ek het gehoor hoe God my vra: ‘Wat maak jy met my Seun Jesus Christus?”
Die volgende oggend het sy ma en haar vriendin gesê dat hulle vir hom hulp gekry het.
Craig is na past. Jacobs by die Oorwinnaars, maar na drie dae is hy terug strate toe, weens die geweldige onttrekking.
Past. Jacobs en past. Desmond Preston het alles probeer om hom daar te hou, maar hy wou nie luister nie. Craig het weer dwelms gebruik, deur die polisie opgetel en weer laat gaan.
In eMalahleni het ’n gemeentelid van ’n kerk vir hom geld gegee, waarmee hy dadelik weer dwelms gekoop en homself gespuit het.
Hy het by ’n vulstasie wakker geword en besef hy is moeg vir die lewe en vernedering. Craig het sy familie gekontak en hulle het hom byna nie herken nie weens sy agteruitgang.
Hulle het nie geglo hy sal verander nie, maar hy het hulle gevra om die Oorwinnaars te bel en past. Preston het hom gaan haal.
Also read: Steven the conqueror
Onttrekking en erge pyn het weer gevolg, maar dié keer het hy met die hulp van gebed deurgedruk.
“Die Oorwinnaars het my gehelp om weer soos ’n mens te voel, liefde te ervaar en my verhouding met God te herstel.”
Hulle het hom ook na die Bread of Life rehabilitasiesentrum gestuur.
“Enige program kan help, maar my program was Jesus Christus en is tot vandag toe. Een dag sonder Hom en ek kyk weer vas na my verlede toe.”
Craig sê hy het sy beste vriende aan die dood afgestaan weens dwelms.
“Elke dag sien ons mense op die straat en langs die pad en dit is waar ek vandaan kom. Vandag is ek geseënd met die mooiste verloofde en trou op 7 April.”
Hy het verlede jaar in ’n ambag gekwalifiseer.
Lees ook: Swart wolf in ons midde
Craig sê hy wil die Middelburg gemeenskap aanmoedig om die Oorwinnaars te ondersteun.
“Dit is maklik om vir iemand kontant te gee en te hoop dit gaan verder goed met hulle. Maar om die Oorwinnaars te help, maak dit makliker om ons jong mense van die strate af te kry.”
Craig sluit sy brief af met: “Ek is meer as ’n oorwinnaar. (Rom 8 : 37-39). Alle eer gaan aan ons Vader en Koning Jesus Christus”.