Witwyntjie en toe is dit: “Don’t be a fool, put a condom on your tool”
'n Mediese dokter, wie se breinkind die humoristiese slagspreuke op groot advertensieborde langs 'n baie besige pad is, het dalk op dié manier talle lewens gered.

Motoriste wat op die R25 tussen Bronkhorstspruit en Groblersdal ry, kan nie die advertensieborde miskyk nie.
Daar is slagspreuke soos: “Don’t be a fool, put a condom on your tool” en “Don’t be negative if you are positive”.
Dr. Hugo Tempelman, wat hierdie advertensiebord-projek begin het, is ‘n Nederlandse mediese dokter wat in 1990 in Suid-Afrika aangekom het, en in die voormalige KwaNdebele vir die Departement van Gesondheid gewerk het. In 1994 het hy die Ndlovu Mediese Sentrum in Elandsdoorn (Moutse) begin. Hierdie familiepraktyk het oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar vanaf ‘n klein plaaslike sorgsentrum tot ‘n streeksorgsentrum gegroei.
Lees ook: Video – Dokter met mes gesteek
Dr Tempelman was die eerste in die provinsie om in 2003 ‘n gratis Anti-Vetro-Virale-uitrolplek vir vigs-pasiënte in te stel, teen al die politiese wil.
“In 2003 is die eerste kondoom-bord opgerig. Hierdie projek is begin in ‘n tydperk toe die land nog in ontkenning geleef het en glad nie oor MIV/Vigs gepraat het nie. Dit het my irriteer dat almal doodgaan en dat niemand daaroor gepraat het nie. Dit het my juis inspireer om ‘n nuwe manier te begin om die verspreiding van MIV/vigs te bemark as ‘n ernstige probleem,” sê dr. Tempelman.

Hy vertel dat hy besef het dat dit nie sou help om hierdie ernstige boodskap van MIV/vigs oor te dra aan die publiek deur gewone advertensieborde wat meer as ‘n leefwyse oorgedra word nie.
Lees ook: Video wys bebloede dokter
“Dit is belangrik om te onthou dat mense eerder iets belangrik en ernstig sal onthou as ‘n boodskap op ‘n prettige en humoristiese manier oorgedra word. Ek het daarom besluit om bietjie glimlagte saam met die kennis van MIV/vigs te versprei deur advertensieborde te ontwerp met humoristiese slagspreuke oor veilige seks en MIV/vigs,” sê dr. Tempelman.
Hy het gesê dat hy sy inspirasie gevind het vir die bewoording van die advertensieborde nadat hy ‘n glas of twee witwyn gehad het.
Na die oprig van die eerste advertensieborde het groot boerderye van die Vallei dr. Tempelman genader oor verskeie van hul werkers wat geraak word deur MIV/vigs en hul lewens wat hierdeur beïnvloed word.
Lees ook: Dokter sit deurrukkers agterna
Dr. Tempelman se Ndlovu Mediese Sorgsentrum, ‘n nie-regeringsorganisasie, bied gratis MIV/vigs toetsberading en behandeling aan ongeveer 4 000 MIV-positiewe pasiënte, insluitend inwoners van die Vallei.
Op dié manier red dr. Tempelman ‘n ongelooflike hoeveelheid lewens in die Vallei met die MIV/vigs toetsberading en behandeling wat hy bied by sy kliniek en die bewusmaking wat hierdie advertensieborde op die R25 bied.
