News

Man laat gaan wat duur gereedskap by hom in straat gehad het

’n Man wat al voorheen gevang is vir koperdiefstal, is vanoggend laat gaan nadat hy met 'n sak gereedskap betrap is.

Mid Alarms redaksielid, Ruan Cloete, was besig met patrollie in Mineralia toe hy die man met die swaar sak oor sy skouer in Morkelstraat opmerk. “Dit het gelyk soos ‘n sak met ‘n baadjie in wat hy dra, maar dit was te swaar om net ‘n baadjie te kon wees.”

Die man het in die teenoorgestelde rigting geloop en Ruan moes ‘n U-draai maak om by hom te stop.

Die oomblik toe die die man egter die Mid Alarms voertuig opmerk, het hy die sak in ‘n tuin neergesmyt en begin weghardloop.

Hy het in die rigting van Samora Machelstraat gehardloop en het Ruan hom met die voertuig agtervolg.

By die Cul de Sac in Du Plessisstraat, het die verdagte egter by een van dié huise weer twee keer oor mure gespring, terug Morkelstraat se kant toe. Ruan het weer terug gedraai om aan daardie kant te gaan soek.

Hy het pas in Morkelstraat weer ingedraai, toe ‘n man vir hom beduie om te stop. “Die man wat my gestop het, het gesê dat die verdagte oor sy muur ook gespring het.”

Ruan het oor ‘n hek geklouter om te kyk in watter rigting die booswig kon gehardloop het.

Hy was pas in die erf, toe hy die verdagte langs die muur, waar hy weg gekruip het, vind.

“Die man wat my gestop het, het nie geweet hy het net in die erf in gespring en gaan lê nie! Hy het gedink hy het aan die anderkant oor die muur gespring!”

Ruan het vreesloos by die erf ingegaan waar daar ‘n groot hond ook was. “Gelukkig het die hond nie in my belang gestel nie, maar wou beslis nie die verdagte wat daar binne was, daar hê nie.”

Ruan het die booswig gevra waar hy die gereedskap gesteel het. “Hy het eers gesê hy het dit by die dryfbaan in Samora Machelstraat gesteel. Later het sy storie verander en gesê hy het die sak gereedskap opgetel.

Die sak gereedskap wat by ’n verdagte. wat Mid Alarms in Morkelstraat vandag gevang het, gekry is.
  • Ruan het die verdagte aan die polisie oorhandig.
  • Volgens Ruan het hy bykans presies dieselfde tyd verlede jaar dié verdagte vasgetrek vir besit van koper.
  • Een van die polisielede het op die toneel ook gemeld dat hulle die verdagte ken en dat hy voorheen gevang is vir diefstal.
  • Mid Alarms het later vandag verneem dat die polisie die verdagte moes laat gaan, omdat daar nie genoeg bewyse is wat aandui dat die gereedskap gesteel is nie.
  • “As iemand die gereedskap as gesteel aanmeld by die polisie, kan die persoon weer gearresteer word, maar voor dit, kan daar niks aan hom gedoen word nie,” sê mnr. Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms).”
  • Die gereedskap is ingehandig by die polisie en kan daar opgeëis word.
  • Die waarde van die gereedskap is tussen R3 500 en R5 000. Dit is gereedskap wat tipies deur motorwerktuigkundiges gebruik word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button