Norman wys wat ‘vasbyt’ regtig beteken
Hy moet soms suurstof langs die viswaters gebruik, maar niks kry hiedie jong hengelaar onder nie.
Norman Steyn (32) is gebore met spierdistrofie en al moet hy soms met suurstof sy lyne inkatrol, is hy as lid van die Vasbyt Hengelklub een van die beste hengelaars in Noordoos Mpumalanga!
Justin Taljaard (van HTS Middelburg) help Norman al vir drie jaar langs die hengelwaters en is die twee ’n gedugte span!

Norman se ma, Jeanette Steyn-Nortjé, vertel dat Norman op ’n jaar en vier maande met spierdistrofie gediagnoseer is. “Sy spiere en organe is swak en sy longe funksioneer net 23%. Hy moet slaap met ’n suurstofmasjien.”
Norman presteer, ongeag sy omstandighede
Van kleins af het Jeanette egter gesien dat haar seuntjie ’n vasbyter is! Hy slaag matriek met vier onderskeidings, al was dit vir hom ’n baie moeilike tyd toe sy pa, Ben, in sy rekordeksamen weens kanker gesterf het. Daarna leer hy vir twee jaar vir ’n tekenaar by die CTU in Vereeniging.

“Norman is ongelukkig nie ’n persoon wat kan gaan werk nie. Sy siekte is van so ’n aard dat hy vinnig siek word met longontsteking. Hy het ’n alleenmansaak begin in 2022 om ’n salaris te verdien.” Hy is dieselfde jaar getroud met Mariska.
Hengel ’n familiesport
As ’n mens uitvra oor die gesin se betrokkenheid by hengel, blink almal se oë.
Norman het in 2011 ernstig begin hengel in die gestremde afdeling van NOM. Hy het nog elke jaar die provinsiale span gehaal.
Hy het twee keer die sportman van die jaar wisseltrofee verwerf en is ’n provinsiale beampte. In die 2023-2024 hengeljaar haal hy die SAVOF-span (vir die tweede keer).

Hulle verduidelik dat Norman se helper, Justin, help om die lyne in te gooi, vis te skep en te help met die aas. “Norman kan sy eie aas laai en ook die vis self inkatrol.”
Justin het sy Suid-Afrikaanse Varswater Oewer Federasie kleure in ’n normale faset (juniors) behaal, asook saam met Norman sy SAVOF-kleure as helper verwerf.

Jeanette is die sameroeper van Noord Oos Mpumalanga se gestremde span en ook ’n SA beampte. Buiten dat sy ’n gekwalifiseerde spanbestuurder en kaptein is, hengel sy ook provinsiaal.
Norman se stiefpa, Johan Nortjé, is ’n SA beampte en, soos Jeanette, ’n gekwalifiseerde spanbestuurder en kaptein. Hy het in 2014 sy SAVOF meesters kleure ontvang en in 2023 SAVOF C-kleure in die gestremde afdeling. Johan hengel al vir 35 jaar (seniors, meesters) en die afgelope drie jaar vir die gestremdes. Hy het prostese in sy rug en knieë.
Die gesin het eers vir Gauteng gehengel en die afgelope drie jaar vir Noord Oos Mpumalanga.

Ander gestremdes welkom om aan te sluit
Gestremde persone wat graag wil aansluit, of sakelui wat as borge vir die gestremde hengelaarspan wil optree, kan Johan of Jeanette skakel by 082 774 9537.
• Middelburgers Vincent Schulze is die voorsitter en Christa Pohl die sekretaresse van die Vasbyt Hengelklub.
