Skeidsregter in Madagaskar

Wie het al ooit gesê dit is vervelig om ’n rugbyskeidsregter te wees? Middelburg se Stefan Breytenbach is tans in Madagaskar, waar hy in aksie is by kwalifiserende wedstryde vir aanstaande jaar se Wêreldbeker in Engeland.

Die toernooi word in die eiland se hoofstad van Antanarivo aangebied en lande soos Zimbabwe, Namibië, Kenia en Madagaskar is in aksie. Breytenbach het vandeesweek as assistent-skeidsregter in die Zimbabwe/Madagaskar- en Zimbabwe/Namibië-kragmetings opgetree.

Hy is deur die Internasionale Rugby Raad aangestel en is een van die mees betroubare assistent-skeidsregters by die toernooi. “Die hoofskeidsregters wil almal hê ek moet hulle tydens hul wedstryde assisteer; toe speel hulle rock, paper, scissors om te bepaal waar ek op is,” vertel hy Woensdag laggend vanuit sy hotel.

Madagaskar was ’n Franse kolonie en omtrent al die inwoners is Franssprekend, met baie beperkte Engelse taalvaardighede. “Ek het maar ’n Franse vertalings-App op my foon gelaai om te kommunikeer wat ek wil hê!”

Tussendeur wedstryde kry hy darem tyd om die stad en land effens te verken. Hy was byvoorbeeld by die koninklike paleis en het Dinsdagaand saam met Oregan Hoskins (SA Rugby se president en vise-president van IRR) sokker gekyk.

Hy het ook geleer tennis speel om die tyd om te kry.

“Daar is soms nie baie om te doen nie. Dus gym ons maar of speel tennis – het gister vir Luke Pearce (ook ’n skeidsregter) met drie stelle teenoor een op die tennisbaan geklop. Dit was ’n lekker gevoel want die Engelse is mos tennismal!”

• Breytenbach behoort weer Sondag in aksie te wees tydens die Kenia/Zimbabwe-wedstryd.

Back to top button