Melanie in Binnelanders…

Deur die jare was daar verskeie bekende verpleegsters; dink maar aan Florence Nightingale en Walt Whitman. Dan het televisiereekse soos ER, Scrubs en Grey's Anatomy ook vir 'n hele paar beroemde susters op die kassie gesorg.

Nóú gaan Middelburg se eie Melanie du Toit binnekort haar naam by televisieverpleërs voeg, wanneer sy ‘n rol in kykNET se Binnelanders vertolk.

Sy gaan van episode 906 tot 910 te sien wees en “dit was al episode 871”!

Opgeruimd, trots en op haar gemaak (soos altyd) trek met die blitsonderhoud by haar Karbinna-kostuumverhuringswinkel in Dr. Beyers Naudéstraat weg.

Sy vertel dat sy glad nie op haar senuwees was gedurende die oudisie nie. “In die afgelope twee jaar was ek al na so baie oudisies. Van 7de Laan en Plek van die Vleisvreters, tot advertensies.”

“Ek is deur my agent, Brümilda van Rensburg, genooi vir die oudisie. Dieselfde middag het sy my nog per e-pos laat weet dat ek die rol het.”

Enige nuwe werksmileu kan lekker intimiderend vir die groentjie wees, maar sy het net lof vir die Binnelanders-akteurs.

“Hulle het hulself eerste aan my voorgestel en ek het lekker met akteurs soos Pascal Pienaar (óók ‘n plaaslike ster) en al die ‘dokters’ in die green room gechat. Ek is baie welkom en tuis laat voel”

O ja, sy het selfs vinnig vir Riaan Cruywagen in die gang van Stark Studios in Randburg gegroet!

Hoewel sy nie veel van haar karakter mag sê nie, is sy en Pienaar, oftewel Karli, saam in ‘n paar tonele.

Du Toit was Hoërskool Middelburg se onderhoofdogter en het naskool haar BDrama-graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Deesdae is sy die trotse eienaar van Karbinna Dramaklub en was al aan die stuur van sake by verskeie suksesvolle produksies.

Hoe lyk haar toekomsplanne?

“Beslis Karbinna,” sê sy sonder om twee keer te dink.

“Ek droom om alle afdelings van Karbinna (drama, vermaak, kostuumverhuring en gesigkuns) uit te brei.”

En wat van haar Binnelandersrol?

“Wel, my karakter het nie doodgegaan nie!” sê sy laggend. “Toe ek die laaste aand van die stel moes terugry, het dit gevoel asof ek van die huis wegry. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.”

In die begin van 2013 het Du Toit gesê dat ‘n Karbinna iemand is wat nie skaam is om homself te wees en uit te leef nie. Nóú – om ‘n geykte sportmetafoor te gebruik – het die Hoofkarbinna beslis deur haar voorbeeld gelei!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button