Jagters hervestig spekbome – agri

Danksy die toewyding en geduld van jagters en natuurliefhebbers in die Oos-Kaap, is Spekbome (Portulacaria afra) in die Suurveld hervestig waar dit baie voordele vir die mens en die natuur inhou. Hierdie plante is nie as sulks bedreig nie, maar omdat spekbome gewilde kos is vir vee, kan oormatige benutting populasies knou. Spekboom, ook bekend …

Danksy die toewyding en geduld van jagters en natuurliefhebbers in die Oos-Kaap, is Spekbome (Portulacaria afra) in die Suurveld hervestig waar dit baie voordele vir die mens en die natuur inhou. Hierdie plante is nie as sulks bedreig nie, maar omdat spekbome gewilde kos is vir vee, kan oormatige benutting populasies knou.

Spekboom, ook bekend as Olifantkos, is 'n wonderlike gawe vir mens en dier. Die plant voorsien kos aan wild en vee, beskerm grond teen erosie, is waterwys, het medisinale eienskappe en kan selfs in slaaie en bredies gebruik word.

Die Spekboom se grootste voordeel vir die mens, is die plant se groot aptyt vir koolstof. Een hektaar Spekbome kan elke jaar tussen drie en vyf ton atmosferiese koolstof tot niet maak. Die verwydering van koolstofdioksied verminder die hoeveelheid kweekhuisgasse in die atmosfeer, wat aardverwarming teenwerk.

Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se Koukamma-tak in die Kareedouw-omgewing van die Oos-Kaap het in 2010 begin om 'n paar Spekboom-steggies op Witklip in die Suurveld in die grond te druk waar hierdie bome deur landbou-aktiwiteite uitgewis is. Die plante het goed gegroei en in 2011 en 2013 is 150 en 200 plante geplant.

Spekbome is ook by die junior luggeweer-skietbaan by die plaaslike hoërskool geplant waar hulle goed gegroei het. Lizette van Gent, bewaringskoördineerder by Koukamma vertel dat die aanplantings op die plaas effens sukkel aangesien die vee en plaaslike wild die nuwe lekkerny vinnig ontdek het. “Ons het besluit om die natuur sy gang te laat gaan op die plaas en eerder die aanplantings uit te brei na die drie plaasskole in die Suurveld.”

Die kinders van die drie plaasskole is by 'n kunskompetisie met die Spekboom as tema betrek. “Die resultate was meer as wat ons ooit kon verwag! Die kinders het met groot geesdrif deelgeneem en ons verstom met hul talent. Ons glo dat hierdie besoeke aan die skole 'n grondslag sal lê van bewaringsbewustheid en waardering vir hul omgewing.”

Behalwe vir pryse wat die wenners en die wenskole ontvang het, het elke skool ook genoeg Spekboom-plante ontvang sodat elke kind sy eie Spekboom kan plant en versorg.

Inligting verskaf deur Carol Whitcher. Vir meer inligting, stuur 'n epos aan: carolwhitcher@gmail.com

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button