Nuwe wolseisoen begin op trae noot — agri
Hoewel daar goeie mededinging op die eerste veiling van die nuwe wolseisoen was, het die trae vraag uit veral China ’n effense demper op pryse geplaas en het die Merino-aanwyser met 1,1% teenoor die sluitingsveiling van die vorige seisoen teruggesak. Dit was egter 9,5% hoër as op die openingsveiling van die vorige seisoen (kykgrafiek 1). …
Hoewel daar goeie mededinging op die eerste veiling van die nuwe wolseisoen was, het die trae vraag uit veral China ’n effense demper op pryse geplaas en het die Merino-aanwyser met 1,1% teenoor die sluitingsveiling van die vorige seisoen teruggesak.
Dit was egter 9,5% hoër as op die openingsveiling van die vorige seisoen (kykgrafiek 1).
In Australië, waar veilings reeds vroeg in Julie ’n aanvang geneem het, sukkel die mark ook om op dreef te kom en het pryse daar skerp teruggesak, veral omdat heelwat tengerwol tans aangebied word wat aanmerklik laerpryse behaal. Dit is die gevolg van die droogte wat vroeër vanjaar in groot dele van die land ondervind is.
Gevolglik is die Australiese aanwyser op ’n laervlak as verlede seisoen en dreig dit om tot onder die sleutelvlak van 1000 Australiese sent per kilogram skoonwol terug te sak (kykgrafiek 2).
Daar is nietemin ’n paar ligpunte. Fynwolpryse het vir die eerste keer in ’n baie lang tyd begin verbeter. Ontleders meen steeds dat die mark sal verbeter en verwag dat die Chinese meer aktief in die mark sal wees sodra die Europeërs van hul somervakansie af terugkeer en weer volstoom begin koop.
Die jongste syfers wat deur Chinese doeanebeamptes vrygestel is, toon dat die uitvoer van tekstielware in Julie vanjaar met 5,54% teenoor verlede jaar gestyg het en ook 9% hoër as Junie vanjaar was. Dit dui op ’n verbetering in die vraag na tekstielware in China se grootste afsetgebiede. Dit kan ook tot hoër wolaankope lei.
Wes-Kaapspog met grootste woldistrikte
Hoewel die Wes-Kaap nie die grootste wolproduserende provinsie in die land is nie, spog hy met die drie grootste woldistrikte.
Statistieke wat pas deur Cape Wools uitgereik is, toon dat die totale produksie vir die 2013/14-seisoen met 3,3% teenoor die vorige seisoen tot 50,5 miljoen kg gestyg het – die eerstekeersedert 1998/'99 datdit die kerf van 50 miljoenverbykonsteek. Dit is in teenstelling met die meeste ander belangrike woluitvoerlande waar produksie steeds daal.
Die drie landdrosdistrikte wat die meeste wol geproduseer het en ook die enigstes in die land is wat meer as ’n miljoen kg wol gelewer het, is Caledon (1 357 729 kg), Bredasdorp (1 342 641 kg) en Swellendam (1 222 608 kg).
In die Oos-Kaap was Barkly-Oos (936 430 kg), Cradock (868 789 kg) en Somerset-Oos (743 563 kg) die grootste wolproduserende distrikte.
Vrystaat se grootste distrikte was Vrede (767 662 kg), Frankfort (742 523 kg) en Harrismith (724 056 kg).
Die top-distrikte in die Noord-Kaap was Victoria-Wes (860 606 kg), Calvinia (692 358 kg) en Richmond (667 843 kg).
In Mpumalanga, waar wolproduksie die afgelope aantal jare drasties afgeneem het, hoofsaaklik weens mynbedrywighede en veediefstal, was Ermelo die enigste distrikwat ’n noemenswaardige hoeveelheid wol geproduseer het (859 748 kg). Wakkerstroom was die naasgrootste distrik (366 763 kg) gevolg deur Standerton (334 082 kg).
Produksie in KwaZulu-Natal het ook die afgelope jare gedaal. Mount Currie was die top-distrik met 349 365 kg. Utrecht was die naasgrootste distrik met 102 365 kg.
Suid-Afrika se produksie sluit ook wol uit Lesotho en Namibië in omdat dié lande se wol hier verkoop word. Lesotho se produksie het 4,9miljoen kg beloop. Namibië het slegs 6 900 kg wol geproduseer.
Die Oos-Kaap was weer die grootste wolproduserende provinsie met 15,5 miljoen kg, gevolg deur die Vrystaat (10,3 miljoen kg), Wes-Kaap (9 miljoen kg) en Noord-Kaap (6 miljoen kg). Mpumalanga het 2,6miljoen kg geproduseer.
Verdienste uitwoluitvoer styg
Suid-Afrika se verdienste uit wol uitvoer vir 2013/14 het met 17% teenoor die vorige seisoen tot R3,1 miljard gestyg.
China was die grootste invoerder en het wol ter waarde van R1,9miljard, of 60,2% van die totale uitvoerverdienste, ingevoer.
Die Tsjeggiese Republiek was die naasgrootste invoerder (R453,8miljoen), gevolg deur Italië (R374,8 miljoen) en Indië (R171 miljoen).
Die ander lande wat noemenswaardige volumes wol ingevoer het, is Duitsland (R86,2miljoen), Egipte (R78,7 miljoen) en Brittanje (R36,2 miljoen).
Die kleiner invoerders was Portugal, Amerika en Mauritius. Frankryk, wat in die onlangse verlede ook kleiner volumes wol ingevoer het, het die afgelope seisoen geen wol bestel nie.