Video: Nog skokkende magsmisbruik

Magsmisbruik blyk steeds aan die orde van die dag te wees vir veral provinsiale verkeersbeamptes wat kan uitdeel, maar nie van hul eie medisyne kan vat nie.

Mnr. Michael Ludick is met R2000 beboet nadat hy Sondag, 12 April, in ‘n lang tou agter ‘n gebreekte trok in Kranspoort moes wag.

Hy sê sodra die baan van voor af skoon was, het die voorste motors verby beweeg, maar dat die motors agter in die tou, gou probeer indruk het.

‘n Provinsiale verkeersvrou, met haar twee kinders en twee ander familielede in haar privaatkar, was een van die touspringers.

Mnr. Ludick, het toe, uit pure frustrasie, besluit om sy motor skuins oor die baan te trek sodat die motors voor hom, wat al lank in die tou moes wag, eerste ryvoorrang kon kry.

Die eerste kar wat deur hom geblok is, was toevallig dié van die magsdronk verkeersvrou en was sy haastig!

 

 

Soveel so dat sy en haar twee kinders, ‘n seun en dogter, ‘n skandalige bohaai opgeskop het, omdat mnr. Ludick haar verhoed het om haar amp uit te voer.

“Watse amp, die amp om te maak net wat jy wil?” vra hy.

Hy sê die vrou het verby hom gedruk en aanbeweeg, waarna hy en die vriende saam met hom, wat ‘n boot gesleep het, hul beurt afgewag het.

Op pad na Middelburg het mnr. Ludick agter haar beland en hy sê dit het voorgekom asof sy hom treiter deur stadiger te ry.

Hy was egter nie hieroor omgekrap nie, want sy vriende moes maar stadig aankruie met die boot.

In Middelburg het sy skielik in die reserwebaan afgetrek en mnr. Ludick het gemerk dat hy ingewag word deur ander verkeersbeamptes.

Hy het afgetrek waarop die verkeersvrou, ‘n provinsiale verkeersbeampte, saam met haar seun en dogter uit die motors gespring het om mnr. Ludick te konfronteer.

Mnr. Ludick se vrou, Laricha, het die debakel met haar selfoon van binne die motor afgeneem, waarop die verkeersvrou ingeklim en die foon by haar probeer afvat het.

Mnr. Ludick het haar toe aan haar arm uit die voertuig probeer trek, haar seun en dogter het hom bestorm.

Hy het gesien daar kom moeilikheid en die situasie probeer ontlont deur aan te dring dat hulle die saak by die polisiestasie gaan afhandel.
Daar is hy summier met R2000 beboet, omdat hy haar glo op ‘n sperstreep verbygegaan het.

Mnr. Ludick sê dat hy drie videos geneem het terwyl hy agter haar aangery het waar ander motoriste haar op sperstrepe verbygaan, hulle is nie ingewag en beboet nie.

Mnr. Ludick sê die verkeersmanne wat hom ingewag het was egter professioneel en kalm, anders as hulle kollega en haar familie.

“Die ergste is, syself is oor ‘n sperstreep verby die ander motoriste in Kranspoort, hoe bring mens die kloutjie by die oor,” vra hy.

Haar verskoning aan haar kollegas was dat sy gedink het daar’s ‘n botsing en die verkeer wou reguleer, maar mnr. Ludick sê dit was op ‘n afstand duidelik dat dit ‘n onklaar trok was.

Na mnr. Ludick die petalje met ‘n staatsaanklaer bespreek het, en ook die videos getoon het, is die boete summier geskrap.

“Die aanklaer se woorde aan my was, dat ek gelukkig moet wees ek is nie gewelddadig gearresteer nie,” sê mnr. Ludick.

Die provinsiale verkeersdepartement kan wel op die magsnommer van die beampte – 80155359 – kyk wie die betrokke beampte is, en waar sy gestassioneer is, maar was uiters traag om te help.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button