Video: Ontploffing skud Koppiestraat
'n Sterwende maagkankerlyer het Dinsdag verwoesting by Koppiestraat aangerig, waar hy homself in sy kamer wou vergas.
Mnr. Soon de Lange (53), het gedurende Dinsdagmore die plastiekpyp van die gasbottel in die gemeenskaplike kombuis van heenkome vir haweloses gesny, en na sy kamer in die hoofhuis gedra.
Hy het die gas oopgedraai in wat die polisie vermoed, ‘n poging was om homself te vergas.
Mnr. De Lange het op sy bed gaan lê en toe vermoedelik ‘n sigaret aangesteek, wat ‘n aardskuddende ontploffing tot gevolg gehad het.
Mnr. De Lange deel die huis met een ander inwoner, mnr. Apie Smit, wat Woensdag in die puin van die ontploffing vertel het dat sy huisvriende homself Dinsdag die heel dag in sy kamer toegesluit het en geweier het om vir enige iemand oop te maak.
“Omdat ons weet hy verduur erge pyn in sy kankerstryd, en dat sy gemoed gevolglik wipplank met hom ry, het ons seker gemaak dat inwoners en Koppiestraat bestuur gereeld by hom inloer,” het me. Estelle du Toit, Koppiestraat se bestuurder, bevestig.
Mnr. Smit sê die ontploffing het hom omstreeks 05:00 uit sy bed geruk en dat hy in sy toestand van skok en slaaptraagheid bloot voordeur toe gehardloop het en geskreeu het vir hulp.
Met die besef dat die ontploffing in mnr. De Lange se kamer langs syne plaasgevind het, het hy en ander inwoners daarheen gehardloop en die deur oopgeskop.
Hulle het mnr. De Lange op sy rug in die bed aangetref.
“Hy het gevra dat ons vir hom ‘n sigaret opsteek, maar dit was buite die kwessie,” sê mnr. Smit, wat bylas dat mnr. De Lange toe self uit sy kamer na buite gestap, en voor in die oprit gaan sit het, wagtend vir ‘n ambulans.
Hy is in die oprit deur me. Du Toit gekonfronteer en gevra wat die gasbottel in sy kamer gesoek het.
“Hy’t bloot gesê hy wou selfmoord pleeg,” sê sy.
Sy sê mnr. De Lange is in Februarie na Koppiestraat gebring deur sy suster, Alta Grobler, wat, die media na die ontploffing toegang tot haar broer geweier het.
Me. Du Toit sê dat hulle nooit probleme met mnr. De Lange ervaar het nie en dat almal gereeld by hom gaan sit en gesels het uit besorgtheid weens sy gevorderde kanker.
“Hy het erge pyn ervaar en ons het almal opgemerk dat hy soms by homself gehou het.”
Geweldige strukturele skade is aan die huis aangerig met die ontploffing wat ook die plafon en dakteëls van die badkamer, mnr. Smit se kamer en sy eie die niet in geskiet het.
Die 19kg gasbottel, wat nie self ontplof het nie, is vroeër die aand nog in die kombuis gebruik om inwoners se aandete te berei.
Bykans al mnr. De Lange se besittings is in die ontploffing verwoes, en hy het brandwonde op ongeveer 30% van sy lyf opgedoen.
Slegs die gedeeltes van sy liggaam wat tydens die ontploffing deur komberse beskerm is, is ongedeerd.
Daar is bevestig dat mnr. De Lange minute voor die ontploffing met me. Grobler op die foon gesels het.
Sy het hom ook Dinsdagaand daar besoek waar sy aangebied het om hom die volgende more dokter toe te neem vir pynbehandeling.
Hy het dit egter summier van die hand gewys.
•Die behuisingsprojek sit nou met die hande in die hare want ten spyte van ‘n groot behoefte vir kos, vleis en beddegoed, moet herstelwerk van derduisende rande ook nou aan die huis gedoen word. Weldoeners wat kan help kan me. Du Toit by 082 891 0490 bel.
•Die nasionale media het Donderdag berig dat drie mense reeds besig is met hofaansoeke wat dokters sal toelaat om genadedood toe te pas. Die aansoeke volg op ‘n hofuitspraak deur regter Hans Fabricius, wat toelating gegee het dat advokaat Robin Stransham-Ford sy lewe sou kon beëindig met die hulp van ‘n dokter. Mnr. Stransham-Ford is twee ure voor die uitspraak in sy guns, oorlede weens terminale kanker. Me. Grobler het geweier dat die Observer met haar broer gesels oor sy siening rakende genadedood.



