Registrasienommers maar geen arrestasie
Inbrekers teiken The Palms in Vosstraat, waar daar die afgelope maand alleen, twee maal ingebreek en beide kere net TV-stelle gesteel is.
Me. Martie van Vuuren sê daar is twee maande gelede by hulle ingebreek, en hulle platskerm TV en sy afstandbeheer is gebuit.
Verlede Donderdag het hulle by haar buurman ingebreek, en net sy TV is gesteel.
“Hulle het wel ‘n paar stukkies juweliersware van my gevat, maar dit was duidelik hulle stel bloot belang in die TV, wat hulle met ‘n ekstra kombers op my dogtertjie se bed toegedraai en uitgesmokkel het,” vertel me. Van Vuuren.
In haar seuntjie se kamer is ‘n kussingsloop deur die boewe gebuit, “seker om die los goedjies in toe te draai.”
Beeldmateriaal van die kompleks se kameras wys duidelik hoe die mans toeslaan.
Die hek word oopgemaak en een spring dan uit om die ogie toe te druk, sodat die hek oop bly.
Die mans ry dan rustig deur die kompleks en soek vir die maklikste inkomplek.
Ongelukkig het die kameras nie me. Van Vuuren se voordeur op nie, maar die motor wat gebruik is in die inbraak, is duidelik sigbaar, met vier mans binne.
Verlede week is ‘n geel Mazda 323 gereeld voor die kompleks se hek opgemerk.
“Sodra ons die Zello 911 groep op die oop kanaal van die verdagte voertuig en mans in kennis stel, verdwyn hulle soos mis voor die son,” sê me. Van Vuuren.
Die boewe daag telkens op met ander voertuie, en weet daar is kameras, maar dit skrik hulle nie af nie.
Registrasieplate is duidelik sigbaar op die motors en die mans is ook herkenbaar op die beeldmateriaal, maar ten spyte hiervan is nog geen arrestasies gemaak nie.


