Contagious Fire loods hulle CD

Contagious Fire, 'n plaaslike Christelike rock en alternatiewe orkes, het hulle eerste CD bekendgestel.

Die orkes bestaan uit Anita Odendaal (32), Nelius Odendaal (31), Christiaan Mostert (27), Wildré van Deventer (19) en Johan van Zyl (26).

Hoe alles begin het, is nie toeval nie en ‘n Groter Hand was beslis betrokke.

“September 2013 moes Anita optree by ‘n Mannekamp in HTS-Middelburg se ouditorium. Die orkeslede het haar op die nippertjie in die steek gelaat en sy moes vinnig ‘n plan maak om ‘n nuwe orkes saam te stel,” vertel Christiaan.

Anita en Nelius het vir Christiaan genader, maar hulle het nog net ‘n tromspeler gekort.

“Wildré was die enigste tromspeler en ons het hom maar gevat,” spot Anita.

Die aand by die Mannekamp het Anita haar eie liedjie, ‘Child of Grace’, gesing en ná die tyd was mense gaande daaroor.

“Ons het toe besluit aan te hou…en so het alles begin.”

Met die opname van die CD, is besef dat hulle nog ‘n kitaarspeler nodig het en Johan van Zyl het by hulle aangesluit.

Anita, Johan en Christiaan is die sangers (Johan en Christiaan speel ook kitaar), Nelius speel baskitaar en Wildré is op die tromme.

Johan en Wildré is voltydse musikante, Christiaan is in die konstruksiebedryf, Nelius is ‘n elektrisiën en Anita is ‘n Engelse onderwyseres by Steelcrest High School.

“Die ideaal sal natuurlik wees as ons almal dit voltyds kan doen, maar ongelukkig maak ons tans staat op ons eie finansies. Ons wil die wêreld oorneem en wag vir die groot deurbraak,” sê Nelius.

Hulle CD word Sondag amptelik geloods en volgens Wildré gaan dit dié geleentheid van die jaar wees.

“Dit gaan die grootste vertoning ooit wees! Ons musiekvideo word ook die aand opgeneem en Metanoya (ook ‘n Christelike rock orkes) gaan vir ons open.”

Contagious Fire is nie verbonde aan ‘n spesifieke kerk nie en hulle nooi graag die gemeenskap uit om hulle vertoning te kom bywoon.

• Contagious Fire, se nuwe CD, Glorious, word op 27 Februarie 2016 vrygestel by Shielding Heights Ministries in Middelburg.

Toegang is R50 per persoon en die orkes sal ook ‘n vertoning lewer wat om 18:00 begin.

Die CD is beskikbaar by Shielding Heights Ministries, Kingdom Life Ministries en ook op iTunes.

Vir enige verdere inligting, stuur ‘n e-pos na info@contagiousfire.co.za of kontak Anita by 082 666 6248. Besoek gerus ook hulle webtuiste by www.contagiousfire.co.za of hulle Facebook-blad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button