Los die Kiewiete uit!
’n Inwoner by die woonstelle van die Korrektiewe Dienste in Middelburg is passievol daaroor om die natuurlewe, en veral die Kiewiete, in die omgewing te beskerm.

Me. Eileen Koch het www.mobserver.co.za geneem na die veld agter die woonstelle waar twee kiewiet kuikens al agter hul ma aangetrippel het.
Die tweetjies het net twee dae vantevore uitgebroei. Die mannetjie het waaksaam heen en weer gehardloop om te laat weet dat ons nie te naby moet kom nie.

Wat haar hartseer maak is dat kinders in die omgewing die kiewiete gereeld verwilder en dat daar ook mense is wat hulle honde oopmaak sodat hulle die voëls laat vlug.
“Kan ons nie maar almal saamleef en die natuur sy gang laat gaan nie? Daar is genoeg speelplek vir honde en kinders in ander areas, hoekom moet hulle die kiewiete pla?”

Sy was oortuig dat die kroonkop kiewiet ’n bedreigde spesie is, maar mnr. Jannie Coetzee (ekoloog, Mpumalanga Toerisme en Parke Raad) sê hierdie kiewiet kom algemeen in die Hoëveld voor. Hy het genoem dat hierdie kiewiete ook al so aangepas is om naby mense hul neste te bou.
Hy het egter gemeld dat hy dit nie goedkeur dat mense die voëls verwilder of hulle skiet nie.

• Me. Koch het gesê dat sy gesien het hoe ’n tienerseun onlangs na voëls in die omgewing geskiet het met ’n windbuks. Sy meld dat dieselfde seun ook al paddas gevang het, hul pote afgesny en dit lewendig begrawe het.
