Boer betrap kontrakteurs langs hoofweg met gesteelde mielies
Kontrakteurs wat instandhoudingswerk op die N4 hoofweg namens Trac doen, is gister betrap met mielies wat hulle op plase langs die pad, onder andere die plaas van mnr. Dolf Rossouw, van die landerye stroop.
Bekende plaaslike boer, mnr. Gerrie Gerrits, was by ’n landbouveiling op eMalahleni en met sy terugkoms, het hy arbeiders met swartsakke langs die N4 opgemerk.
Die werkers tel vullis langs die pad op maar iets vreemds aan die sakke het mnr. Gerrits opgeval.
Hy het langs die hoofweg gestop en gesien hoe een van die werkers stadig ’n vol sak in die lang gras laat sak.
Die werker het afgebuk en ’n nuwe, leë swartsak, tevoorskyn gebring.
Mnr. Gerrits het ondersoek ingestel en ’n swartsak vol mielies in die gras gevind.
Hy sê dat die sakke op ’n bakkie gelaai word deur werkers, en dan weggery word.
Hy het beide die bakkie en die sak vol mielies afgeneem om aan Trac te verskaf.
Hierna is hy tolhek toe om die voorval te gaan aanmeld by die senior sektor bestuurder van Trac.
“Mens sal nooit kan bepaal hoeveel tonne mielies al so weggery is nie,” sê mnr. Gerrits.
Hy is bly dat hy na die stemmetjie in sy kop geluister het, en nou boere langs die N4 kan waarsku van die tendens.
Die Middelburg Observer het die fotografiese bewyse aan Trac se woordvoerder, Solange Soares, gestuur.
Sy het bevestig dat die saak reeds sedert gister, nadat mnr. Gerrits dit aangemeld het, aandag geniet.
“Ons verdoem die optrede en neem die klagtes baie ernstig op,” sê me. Soares.
Die kontrakteur is glo reeds per e-pos in kennis gestel van ’n interne ondersoek, en Trac het mnr. Gerrits gevra om ook ’n kriminele klag te gaan lê.
“Die kontrakteur het sy samewerking met die ondersoek gegee,” sê me. Soares.
Sy wou haar nie uitlaat oor moontlike sanksies wat Trac teen die kontrakteur kan en sal instel na afhandeling van die ondersoek nie.
“Hierdie is ons handelsmerk en Trac sal nie toelaat dat sy naam deur die modder gesleep word nie,” sê sy.
