Polisie soek inligting ná moord op wildsplaasbestuurder naby Fochville

Enigeen wat kan help in die moordsaak van Ian Boshoff (32), wie se liggaam met skietwonde gekry is, word gevra om die polisie te kontak.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem vir die moord op Ian Boshoff (32) wat die afgelope naweek op die Snymanshof-wildsplaas naby Fochville vermoor is nie.

Boshoff was ‘n bestuurder op die wildsplaas. Die plaasaanval het vermoedelik Vrydagaand plaasgevind.

’n Buurman het Saterdag op Boshoff se liggaam afgekom in sy huis. Die buurman het ondersoek gaan instel omdat hy onraad vermoed het nadat Boshoff nie op sy boodskappe vroeër die dag reageer het nie. Die buurman het boodskappe aan Boshoff gestuur nadat hy gesien het dat wildsdrade geknip is.

Boshoff is met skietwonde gekry, en is op die toneel deur nooddienste dood verklaar.

Daar is dieselfde aand ook by een van die ander bure ingebreek.

Kolonel Adéle Myburgh, die woordvoerder van die polisie in Noordwes, het bevestig dat ‘n TV, DVR, twee vuurwapens en selfone uit Boshoff se woonhuis vermis word, asook matrasse uit die lodge op die wildsplaas. Die Land Cruiser wat tydens die voorval op die wildsplaas gesteel is, is Sondag langs die R502 naby Orkney gekry met een van die gesteelde matrasse, het Myburgh gesê.

Boshoff was nie getroud nie en is oorspronklik van Bothaville. Hy is die seun van Bossie en Sonja Boshoff.

Sy dood is beskryf as ‘‘n vreeslike verlies wat diep sny in die harte van sy gesin, familie en vriende,’ en sal hy onthou word as iemand wat met liefde en deernis gelewe het.

Myburgh het gevra dat enigeen wat inligting het wat die polisie kan help in hulle ondersoek, Sersant Victoria Kumalo sal skakel by 082 373 7291 of die speurtak-bevelvoerder Adjudant-Offisier Johannes Letsobe by 082 416 2348.

  • Bernadette Hall en haar man, David, is in 2012 deur vyf mans op hul plaas Frischgewaagd, ook langs die Frischgewaagd-grondpad naby Fochville aangeval. David is in die aanval oorlede en Bernadette is ernstig aangerand.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button