Vrystaatse speurder koelbloedig doodgeskiet na vragmotorkaping
Adjudant-Offisier Neels du Rand se liggaam is in sy bakkie gekry en hy het vier skietwonde op sy rug gehad.

Die polisie in Villiers in die Vrystaat het die hulp van die gemeenskap gevra om die verdagtes vas te trek wat die bevelvoerder van die Villiers Speurtak koelbloedig vermoor het.
Volgens polisiewoordvoerder Sersant Josephine Rani, het die 47-jarige speurder Adjudant-Offisier Neels du Rand Vrydagoggend om 02:45 die Villiers-polisiestasie geskakel en vir bystand gevra. Hy het gesê dat hy op die spoor van ‘n gekaapte vragmotor was op ‘n grondpad tussen Villiers en Standerton.
Lede van die Villiers-polisiestasie het onmiddellik op sy oproep gerageer en onderweg gesien dat ‘n gedeelte van ‘n draadheining by ‘n plaas langs die pad geknip is. By nadere ondersoek is die Isuzu bakkie van Du Rand gesien en hy is in die voertuig gekry. Hy het vier skietwonde op sy rug gehad en is op die toneel dood verklaar.
Sover vasgestel kan word is niks uit die voertuig of by Du Rand gesteel nie, het Rani gesê.
Die gekaapte vragmotor is verlate sowat 8km daarvandaan in die rigting van Standerton gekry. Rani noem dat voorlopige inligting daarop dui dat die gekaapte voertuig vergesel was van ‘n wit BMW voertuig met ‘n vals registrasie.
Die polisie se waarnemende provinsiale kommissaris, Majoor-Generaal Len Singh, het sy skok oor die voorval uitgespreek en gesê dat dit hartseer is om ‘n polisielid met soveel ervaring te verloor. Hy het gesê Du Rand het 29 jaar se lojale diens aan die SAPD gehad. Hy het sy diepe meegevoel met sy gesin en familie betuig.
Read original story on parysgazette.co.za