Lucas Meyer Primêre Skool word 90

Swart, ou-goud, oranje-geel en groen – dis die bekende kleure wat Lucas Meyer Primêre Skool laat uitstaan bo enige ander skole in die noorde van KwaZulu-Natal. Op 19 Februarie, presies 90 jaar gelede, het die Vryheid Government Infants’ School (Afrikaans- en Engelsmedium) hul deure amptelik met ‘n roltal van 214 leerlinge geopen. Mej. E.H. Müller is as die eerste hoof van die skool aangestel. Tydens die openingsverrigtinge, wat behartig is deur die Administrateur van Natal, mnr. H Gordon Watson, word daar genoem dat daar in daardie jaar drie skole in die omgewing was met altesaam 942 leerlinge. Die skool het 5 000 pond (R10 000) gekos om op te rig en het slegs sewe klaskamers gehad. Aan die einde van die eerste skooljaar het die roltal alreeds na 287 leerlinge toegeneem.
In die volgende jaar word daar gratis maaltye aan veral behoeftige kinders voorsien. In 1933 kom dit na vore dat daar probleme ondervind word met Afrikaanssprekende leerders in die Engelsmedium klasse. In die daaropvolgende jaar was daar ‘n totaal van 147 leerders in die Engelsmedium klasse, waarvan nie minder as 62 leerders Afrikaanssprekend. ‘n Paar jaar later, in 1937 was die roltal 251 wat saamgestel is uit 116 leerders in die Afrikaansmedium en 135 leerlinge in die Engelsmedium klasse.
Twee jaar later het die getalle omgeruil na 134 leerlinge in die Afrikaansmedium en 104 leerders in die Engelsmedium klasse. Mej. Müller verlaat die skool in 1940 en word opgevolg deur mej. C.S.F. Conradie. Die status van die skool

verhoog in 1946 en word dit die ‘Government Primary School Vryheid’ genoem. Aan die begin van 1948 word daar nuwe klaskamers aangebou en dit is ook in hierdie jaar wat die Juniorkoshuis geopen word. In 1949 word die skool se naam verander na ‘Lucas Meyer Government School’, vernoem na die eerste en enigste president van die destydse ‘Nieuwe Republiek’, Lucas Johannes Meijer. Aan die einde van 1968 is die roltal 458 leerders en aan die begin van 1970 is dit 444, met slegs 37 leerders in die Engelsmedium klasse. In 1972 word daar ‘n besluit geneem om nie meer voorsiening te maak vir Engelsmedium klasse nie. In 1974 aanvaar mnr. F.S. le Roux die pos as hoof en bou die skool uit as die enigste suiwer Afrikaansmedium laerskool. Die seuns se skooldrag word in 1975 verander en die kakiehemp en broek word vervang.
Dit dui op ‘n groot verbetering!
Wat is ‘n skool sonder ‘n skoolwapen en leuse?
Mnr. Fish Pienaar en mej. Sophie Lourens het alreeds in
1950 die oorspronklike skoolwapen ontwerp.
Dit is herhaaldelik verander en vernuwe tot waar dit vandag op die skooldrag en skoolgebou pryk. Wat is die simboliek agter die skoolwapen? Die groen verteenwoordig groei, terwyl die aalwyn simbolies staan as ‘n sterk en taai plant wat onder enige omstandighede floreer. Die swart kom uit die aarde en uit die omgewing se steenkool ontginning, wat dui op ontwikkeling en nuwe werksgeleenthede. Die oranje-geel blom van die aalwyn herinner jou aan

‘n goue sonsopkoms
of sonsondergang en dekoreer die omgewing.
Tesame span dit ‘n goue kroon om die skoolwapen en die leuse ‘Werk en Groei’ om ‘n eenheid te vorm. Hierdie leuse is die breinkind van die destydse hoof, mnr. F.S. le Roux, wat in 1993 na 19 jaar diens aan die skool aftree.
Mnr. P.J. Coetzee neem die leisels in 1994 oor as hoof en gedurende hierdie jaar word die koshuis opgegradeer en uitgebrei. Moderne tegnologie is die toekoms en daarom word daar ‘n rekenaarlokaal by die skool ingerig en in 1996 in gebruik geneem. Daar is egter ‘n aanvraag vir ‘n graad R-klas op die skool se perseel en in 2005 word die eerste graad-Re verwelkom. Tydens hierdie jaar word die skool se 75’ste bestaansjaar aaneenlopend deur daardie jaar gevier en in 2010 vier die skool ‘n trotse 80 jaar wat op verskillende wyses regdeur die skool uitgebeeld word.
Tien jaar later en aan die begin van Lucas Meyer Primêre Skool se Jubileum-feesvieringe word mnr. P. Aucamp, oudleerder en oud-inwoner van Vryheid, aangestel as die nuwe skoolhoof. Lucas Meyer Primêre Skool bou steeds voort op ‘n trotse verlede en dien die gemeenskap van Vryheid vanuit ‘n Christelike perspektief terwyl daar op ‘n aktiewe wyse na alle kultuurgroepe uitgereik word. Vir die afgelope paar jaar handhaaf die skool ‘n gesonde leerlingtal, wat wissel
tussen 550 en 700. LMS sien daarna uit om hulle 100’ste bestaansjaar in 2030 te vier!

Back to top button