Om te braai, of nie te braai nie, dit is die vraag…
Heritage Day/Braai Day is on Wednesday… what is your secret braai recipe? This is Johann’s: Ons was nog sulke laaities wat net-net altwee kante van die ou .303 gelyktydig van die grond af kon hou, toe het my pa ons al die vlaktes ingestuur om te gaan hout haal. En dit moes braaihout wees, geen …

Heritage Day/Braai Day is on Wednesday… what is your secret braai recipe? This is Johann’s:
Ons was nog sulke laaities wat net-net altwee kante van die ou .303 gelyktydig van die grond af kon hou, toe het my pa ons al die vlaktes ingestuur om te gaan hout haal. En dit moes braaihout wees, geen “waaitakke” nie. Daar was nie iets soos vuuraanstekers, of Blitz nie, want daardie jare was dit nog wetenskapsfiksie op die Hammanwerf gewees. Ons moes ook die twee groot braaipanne, wat in die werkswinkel by Waterwese se depot gemaak was, skoonmaak, en sorg dat die groot ou rooster skoongebrand word.
Jy het net eenvoudig nie ‘n rooster gewas nie. Dit was amper gelykstaande aan heiligskennis. Hitte, en koerantpapier, het hier die ding gedoen. Pa se braaiplek was ‘n groot sementblad, met ‘n paar bakstene om die rooster op staan te maak. Webers en dromme en soortgelyke goeters….?
Nooit van gehoor nie.
Kleinhoutjies en papier, en blaas, boetie. As daai vuur kom vat het, dan pak jy die rooster op hom. Hy moet nou skoonbrand. Dan gooi jy nog ‘n paar stompe op, want nounou moet daai ‘n tweede vuurtjie effens langsaan aan die gang kry. Dis nou om die roostervuur te voer, later….
Heelwat later.
Wanneer die naghemel my pa se stories ontsluit, en ons op die opvoustoele om hom vergader.
Nou kan ons die skottelploeg gaan haal. Dis eenvoudig net ‘n ronde staalbak, met drie pote onderaan en ‘n handvatselpatent bo. Daai ding sit jy oppie vuur, en werk hom met ‘n eierlepel en kookolie tot pa tevrede was dat die ding skoon is.
Braaibroodjies.
Daardie spesifieke bydrae tot my dieët, met graagte ingevoer deur my ou vader. Dik snye brood, met botter, tamatieskywe, uie en kaas. Dit word met ‘n garedraadjie saamgebind, dat hy nie op die vuur uitmekaarval nie. Jy pak hom in ‘n aparte rooster in, en wanneer die vleis en die ander goete klaargebraai is, is die vuur braaibroodjiegereed. Dan sit jy hom op die kole. Hy moet net twee keer omgedraai word, wat pa het altyd gesê jy bak nie nou beskuit nie…!!
Die skottelploeg word nou bygetrek, en “getjaarts” met ‘n skeppie kookolie. Dan wag jy nou die olietjie net so beginne lyk of hy temperatuur kry, en jy gooi die aartappelskywe in. Niks se getjipsmakery nie. Eierspaan in die hand, hou jy daai aartappeltjies dop. So drie draaie later kom die uie by.
Nou het jy suurlemoenpeper en sout hier op. Met die hand gestrooi, dat jy kan weet hoeveel jy opgooi.
Die kleiner steakies kom dan by, en dan word die braaispeserye bygesit. Jy sit daai vleisie skoon op die vuur, en jy sout en peper hom soos wat die hittetjie aan hom werk. Niks voor die tyd nie. Pa het altyd gesê die sout maak die vleis “watertrek.” Daai sousie wat onder in daai skottelploeg versamel…..!!!!
Pa se platboompot kom dan by, wat jy op die tweede vuur se kole sit, sonder sy deksel. Daai pot mag nie ‘n deksel op hê nie…!!!
Die twee groot braaipanne kom nou by, en dan, bewaar jou siel as daai tweede vuur nie braaigereed is nie. Die outop bring sy sirlointjie, en pak hom op daai pan, met sy sousies en megheftetjies wat weldra uit hom beginne uitstoom. Geen skaapvleis nie. Daar innie Namibvlaktes, waar die berge in die verte saam met die hemel rooi word in die aand, het die grootmense altyd gesê ‘n man wat kan karakoel eet, sal hom steel ook.
Nou sit ons.
As ons by die huis is, sal die honde so in ‘n ry kom nadersit, kwylbekke met ‘n eie storie. Sou ons dalkies iewers in die Namib gewees het, het jy die woestynbekke hoor stil raak soos al die vierpotige (en tweepotige) karnivore kom boekevat, net buite skietsig. By so ‘n vleisvuur in die Kuisebvallei het ek vir die eerste keer in my lewe gehoor hoe ‘n luiperd daar bo teen die klippe as pa se vleissousiesgeure hom tref.
Omdraai, mooi kyk, omdraai, en dan na die platboompot sonder die deksel toe. Sodra alles in die pot was, het my pa geroep. Dan word die sirlointjie in sulke lang repe gesny. Bloedvannerwalt.
Kultuur….????
Natuurlik. Jy kan jou hele plaas daarop verwed.



