Lucas Meyer Primêre Skool – LMS Koshuis – ‘n ware tuiste vir leerlinge
Die koshuis het weer ’n nuwe baadjie aangetrek nadat die gange oorgeverf is en die badkamers se plafonne vervang is gedurende die vakansie. Die jaarlikse onderhoud is noodsaaklik om ons koshuis netjies en mooi te hou en dit is slegs moontlik deur harde werk en fondsinsamelings. Baie dankie aan al die personeel en werkers wat soveel moeite doen om ons koshuis ’n pragtige tuiste weg van die huis af te maak.
LMS KOSHUIS het die nuwe jaar begin met ‘n huis vol nuwe inwoners.
Daar was baie opgewondenheid oor die lekker nuwe tuiste, maar ook met so bietjie verlange. Die inwoners het baie gou aangepas in hulle nuwe tuiste tussen al die baie maats en hul besige skoolprogram. Die skool was baie besig met sportuitdunne en sportoefeninge en dan het die skoolwerk tydens studietye ook met alle erns begin. Daar was darem ook genoeg tyd om elke middag saam te speel en die sandput het veral baie aandag geniet. Ons wil baie dankie sê aan Andre Smit wat die nuwe sand aan ons geskenk het en vir Pieter Collety wat dit afgelewer het. Met die vreeslike warm dae, die laaste weke, het die leerlinge ook lafenis gekry onder die sproeiers wat ook die grasperke aan die lewe moes hou.
Ons verwelkom ook ons nuwe inwonende personeel mnr en mev Pieter Aucamp en mej Dolla Skews. Hulle vorm deel van ons bekwame span personeel wat saam met die matrones omsien na die welstand van al ons koshuisleerlinge.
Die koshuis het weer ’n nuwe baadjie aangetrek nadat die gange oorgeverf is en die badkamers se plafonne vervang is gedurende die vakansie. Die jaarlikse onderhoud is noodsaaklik om ons koshuis netjies en mooi te hou en dit is slegs moontlik deur harde werk en fondsinsamelings. Baie dankie aan al die personeel en werkers wat soveel moeite doen om ons koshuis ’n pragtige tuiste weg van die huis af te maak.
Totsiens juf Liesel Viljoen: Na ‘n verbintenis van vyf jaar het mev Liesel Viljoen besluit om ‘n kort blaaskansie te neem. Sy was in hierdie tydperk voluit betrokke in die onderrig van Engels by die graad vyf leerlinge. Ons wil haar sterkte toewens met nuwe uitdagings in haar lewe. Ons het baie waardering nie net vir haar bydrae tot die akademie nie, maar die pragtige jaarblad en webblad van die skool het LMS baie eer aangedoen onder haar toesig.
Vryheidstreek Tennisproewe: Luneburg, Michaelis en LMS se tennisleerlinge neem deel aan proewe. Die volgende leerlinge van LMS is deel van die dag se proewe: Marlie Smith; Anrie Janse van Rensburg; Anika Smith; Lisa Grobbelaar, Dirk Grobler, Wynand Clack en Leon Erasmus. Slegs Marlie Smith is ingesluit in die Vryheid Streekspan en is ook by die volgende uitspeelrondte ingesluit in Vryheid Distrikte. Die span gaan deelneem te Pietermaritzburg wat die 27 Februarie tot 1 Maart plaasvind.
ATKV Kursus: LMS was verteenwoordig by die ATKV-redenaarskompetisie se sprekerskursus wat aangebied was op Saterdag, 7 Februarie, by Hoërskool Port Natal in Durban. Die kursus was gerig op leerders en afrigters om hulle op te skerp vir die komende landswye ATKV kompetisie. Aangesien LMS hierdie jaar vir die eerste keer volskaals aan die landswye kompetisie gaan deelneem, was dit van groot belang om hierdie kursus by te woon. mev M van der Nest sal in die loop van die volgende paar weke vir ons ‘n inligtingsessie reël vir ouers en leerlinge wat betrokke is by die kompetisie. Tiaan Marais en Mev Tarina Marais het namens LMS hierdie kursus vir ons bygewoon.
Kalender
18 Februarie: LMS Redenaarskompetisie
19 Februarie: LMS 85 jaar jonk
23 Februarie: Wintersportvergadering



