Utrecht Nashua Sportweek ‘n reuse sukses
Dit was vir Utrecht Hoërskool ‘n groot voorreg om skole van heinde en ver vir die Utrecht Nashua Sportweek onlangs te ontvang.
Dit was vir Utrecht Hoërskool ‘n groot voorreg om skole van heinde en ver vir die Utrecht Nashua Sportweek onlangs te ontvang.
Dit was wonderlik om so baie kinders saam te hê en hul netjiese drag en onberispelike gedrag was voorwaar ‘n goeie advertensie vir al die skole betrokke.
Die skool glo die bywoning van die sportweek het hul vaardighede en spanwerk ‘n hupstoot vir die komende seisoen gegee.
Nege rugby-, agt hokkie- en sewe netbalspanne het aan die week deelgeneem.
Die dogters se vaardighede is Vrydagmiddag getoets.
Die wenners was soos volg:
Netbal: Celestine Jackson (Glencoe) en Juane Pretorius (Kuswag).
Hokkie: Leah Vonkeman (Michaelis Schule) en Andiswa Mtshali (doelwagter van Glencoe).
Rugby: Die skopkompetisie vir die rugbyseuns is gewen deur Sandile Hlongwane (Glencoe) en Theuns van Zyl (Dundee) het die lynstaankompetisie gewen.
Tot groot vermaak van die kinders is die middag afgesluit met ‘n hokkiewedstryd tussen verskeie van die afrigters en spanbestuurders.
Die wedstryd het gewys oor hoeveel talent ons beskik en het in goeie gees ‘n gelykop uitslag opgelewer.
Op die rugbyveld het die ‘ooms’ ‘n skopkompetisie van hul eie beslis.
Baie dankie aan Trevor Smith vir die borg van die balle wat gedurende die week gebruik is.
Altesaam 65 wedstryde is oor die vier dae gespeel en verskeie skitterdrieë en spogdoele is aangeteken. Die spanne het mooi saamgewerk en ‘n mens kon beslis die verbetering in hulle spelpatrone opmerk!
Netbal:
Groep A: Kuswag het Veld en Vlei gewen met 19 doele teenoor sewe.
Groep B: T. P. Stratten het Dundee gewen met 22 doele teenoor 14.
Hokkie:
Groep A: Utrecht het NRS gewen met vier doele teen nul.
Groep B: Glencoe 1 het Veld & Vlei gewen met een doel teen nul.
Rugby:
Groep A: Dundee 1 het Leandra gewen. Die telling was 17 – 0.
Groep B: Kuswag het T. P. Stratten gewen. Die telling was 46 – 7. Spanne met die beste gees, netheid en dissipline is as volg aangewys: T. P. Stratten (netbal), Utrecht (hokkie) en Veld en Vlei (rugby).
Groot dank aan die skool se hoofborg, Nashua. Hulle bydrae maak ‘n groot verskil.
Baie geluk aan al bogenoemde spelers en skole. Dankie aan almal wat die sportweek bygewoon het.
Ons maak volgende jaar weer so!




