Op Dinsdag 8 Mei, het 21 entoesiastiese Graad 6 en 7 Ichthus leerlinge saam met Mev. Anelia Kriel, Mej. Sanica Williams en Mev. Helena Viljoen, op ‘n toer na Twinstreams Omgewingsentrum, naby Mtunzini aan die Noordkus, gereis!
In Eshowe het die kinders papier gemaak, die kunstige kleipotte en gras- mandjies by die Vukani-museum bewonder en die asemrowende uitsig tydens die stap na die boomtoppe in die Dlinza-woud, geniet! Notas is deurentyd oor al die riviere en plantegroei gemaak, sodat die spanne, Umhlatuze en Umlalazi, lekker teen mekaar kon kompeteer! Almal kon daarna nie meer wag om by die omgewingsentrum, Twinstreams, naby Mtunzini, te kom nie.
Met groot versigtigheid, maar ewe groot entoesiasme, is die nagdiere in die inheemse duinewoud daardie selfde aand met flitse gesoek…uile en nagapies en vrugtevlermuise! Al die onderskeie diertjies is duidelik gehoor en sowaar….die nagapies is ook gesien! Wat ‘n voorreg!
Die Umlalazi Natuurreservaat was vol ontdekkings: die vleilande, moerasse en die swart modder, wat volgens die gidse, baie goed vir ons velle is! Die rooi moeraskrappe was volop en het meer as genoeg kos gehad om te eet – die moerasbome se blare. Die Gr 6 seuns het met baie ywer probeer om lastige apies van die piekniekarea te verwilder terwyl ons middagete geniet het.
Kajak-ry op die Umlalazi-strandmeer het ‘n groot gelag tot gevolg gehad toe sommige kajakke bietjie in die verkeerde rigting gegaan het. Opwindende strandspeletjies en spanbou was deel van die pret van die Umhlatuze- en die Umlalazi-span!
Waterstudies, duinstudies, woudstudies en grasveldstudies is alles op ‘n prettige manier aangebied en almal het regtig so baie oor die wonderlike verskeidenheid in God se skepping geleer! Die lewende museum, waar Rafia palms groei waarvan besems vroeër jare gemaak is, was ook ‘n uitsonderlike ervaring en die baie skaars vegetariese aasvoël, wat onder andere van die palmbome se vrugte leef, is gehoor en gesien.
Lanternbekruip op die duine in die nag was ook ‘n baie opwindende ervaring!
Vrydag het die groep die beroemde “UniZulu Science Centre” in Richardsbaai besoek waar ‘n musiekvertoning, ‘n klank- en modern materiaalwerkswinkel vir ons gewag het! Die baie verskillende wetenskap-aktiwiteite waar kinders dit self kon ervaar, was ‘n wonderlike leerskool vir almal!
Ichthus wil die onderwysers, ouers en leerlinge vir ‘n heerlike toer bedank en is ook baie dankbaar teenoor die Here Jesus vir Sy veilige bewaring! Soli Deo Gloria!



