Talana live ’18: Ons herbeslaglegging van ons geskiedenis…
Skotse invalshoek (Sarie Marais is darem nie Sarie Marais as dit nie uit 'n doedelsak kom nie) het gister heelwat aandag getrek, en kan uitgebou word na 'n soort van Highland Games toe.

Dundee – moeë ou cowboydorpie wat onder sy eie vullis verswelg, of verborge historiese juweeltjie wat raakgevat moet word…? Wat ook al jou opinie is, die jaarlikse verrigtinge teen die hange van Talanaberg in die algemeen, en verál die skouspel die laaste twee jaar, het betrekking. As jy nie onder ‘n rots bly nie, sal jy weet dat die laaste een gister gebeur het.
Daar is ‘n klein handjievol mense wat met die verantwoordelikheid van Talana Live! beur soos gedienstige trekosse van ouds. Die Boerekommando is manne wat met hulle perde aftrek na Talanaberg toe om die slag te kom herdenk, en saam met Gavin Slater-hulle die historiese herlewing van die Slag van Talana te kom doen.

Hoekom sal ‘n man van so ver soos Nelspruit, Bloemfontein of Potchefstroom ry om hier te kom deelneem en meemaak…?
Pam McFadden en haar span werk soos Trojane elke jaar om hierdie skouspel op die tafel te kom sit, maar hulle kan dit nie alleen doen nie. Hierdie jaar het hulle bloedweinig ondersteuning gehad, en Tourism Dundee het die leeue-aandeel in die sukses van hierdie verhaal.
Daar is heelwat mense wat van mening is dat die vorm en omvang van hierdie skouspel oud en afgeleef is, maar dan sien jy hulle ook nie daar nie. Die Skotse invalshoek (Sarie Marais is darem nie Sarie Marais as dit nie uit ‘n doedelsak kom nie) het gister heelwat aandag getrek, en kan uitgebou word na ‘n soort van Highland Games toe.

Oorlog Bezuidenhout
Daar is heelwat ander dinge, en die herlewings van die ou slagte is nie al wat hier aangebied word nie. Talana Live is nie net ‘n paar Diehards wat in die gras rondrol nie…!!!
Met die totale gebrek aan ondersteuning van owerheidweë af, het dit primêr belangrik geword dat elke Dundoniër, plaasboer, toergids en besigheidsman hulle planne in ‘n sak gooi en op die tafel kom uitskud.
Dundee het ‘n ryke historiografie om aan te bied, en elke mens wat ‘n lewe in hierdie dorp wil maak, het ‘n plig om te help dat ons hierdie gebeurtenis in een van die premium verrigtinge van die provinsie kan omskep. Dit sal Dundee op die kaart terugplaas, en dalk miskien ons munisipaliteit wakkerskud.
‘n Handjievol B&B-eienaars, toergidse en gasvryheid-aandeelhouers kan Dundee nie alleen aan die lewe hou nie. Dit is tyd om ons geskiedenis aan boord te neem, en ons eie te maak. Het jy ‘n plan..? Bring dit Talana toe. Ons mag dalk net nou ons laaste kans hê om iets tot stand te bring wat mense weer vanoor die lengte en breedte van hierdie land sal laat aanry. Dink daaraan. Ons kan nie almal karwagte wil word nie.
.



