Kort van statuur, maar breed van bors – Dr Malan – 40 jaar in Dundee
Hy glo daaraan om sy lewe so vol as moontlik te lei, want daar is net een kans.
Kort van statuur, maar breed van bors, was die eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek Corné Malan se spreekkamer binnestap.
Sy eggenoot Sylvia het geen bekendstelling nodig nie, en elkeen wat al ooit rolbal in Dundee gespeel het, weet presies wie hierdie uiters sportiewe egpaar is. Die spreekkamer in Cornhillstraat is ‘n luide herberg vir ernstige bergfietsentoesiaste, en dis presies wat Dr. Malan is – ‘n ernstige bergfietsentoesias. Dis nou as hy nie natuurfotos iewers neem nie.
Jy sien hom menigmaal iewers op sy fiets in die omgewing van Coronation Park.
Die Courier het op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan kyk wie Corné en Sylvia Malan is.
Soos baie mediese professionele van die tyd, het hy in London gaan werk nadat hy gegradeer het in tandheelkunde.
Europa in die laat sewentigerjare was nie vriendelik teenoor Suid-Afrikaners nie. ‘n Advertensie oor ‘n tandheelkundepraktyk wat in Dundee beskikbaar was, het sy aandag getrek, en hy het dokter Danie van Zyl se praktyk hier oorgeneem.
“Ek het eers gedog Dundee was in Skotland, maar ons het die ‘deal geseal’ in ‘n telegram,” het hy gelag.
“Ek onthou nog dat ons saam met dok Schwellnus hier aangekom het.”
Dentists’ crowning race glory
Dokter Malan se eerste indrukke van Dundee was gunstig.
Hy het van die breë straat en die boomlanings gehou. Die natuurskoon om Dundee met sy papierbasdoring-bosveld het hom geboei, en hy vermeld graag die Biggarsberge en Mpatiberg in die somer.
Hulle het niemand geken toe hulle hier aankom nie. Hy het geen vriende of familie hier gehad nie, en die uitdagings in ‘n kleiner dorp het hom aan die begin redelik besig gehou. Daar was geen laboratoriums in die omgewing nie, en hy moes sy laboratoriumwerk in die aande self doen.
Daar was ook geen koerierdienste nie, en hy moes van die poskantoor se pakketdiens gebruik maak om sy goed in Johannesburg te kry.
Hy het ook verskeie hoogte- en laagtepunte uitgewys. Die steenkoolmyne wat gesluit het, die Kilty’s lekkergoedfabriek, die Alucab aluminiumkabelfabriek, die Consol glasfabriek, die Everite asbeshandelaar en die NLK-kantore en voerfabriek wat hier toegemaak het, was die belangrikste op sy lys. Hoogtepunte sluit in die oopmaak van takpraktyke in Durnacol, Utrecht en Newcastle.

Dr Malan doing what he loves = hectic mountain biking!
Die stigting van die Biggarsberg Athletic Club saam met Peet Visser loop hand aan hand saam met spesiale tye op Mpatiberg as hulle in die oggende gaan draf het om voor te berei vir die Comrades-marathon.
‘n Foto wat hy hier een oggend geneem het, het op die voorblad van die Dundee Publisiteitsvereniging se inligtingspamflet in 1988 verskyn. Sonsopkomste tydens oefenritte hou vandag nog ‘n spesiale plek vir hom in.
Hy was baie lank aktief betrokke met die Photographic Club of Northern Natal, wat later Vryheid en Newcastle ingesluit het, en het oor die jare twee deelgenootskappe verwerf by die Photographic Society of SA in Natuurfotografie en Audiovisuele aanbieding, wat hom een van net twee fotograwe in Natal maak met hierdie akkolades. Die Third Photographic Wildlife Convention van 1991, in die Ithala Wildreservaat, met nasionale en internasionale sprekers, het die plaaslike fotografieklub, waar hy vir 30 jaar gedien het as bestuurslid, op die kaart geplaas.
Team Ford gives enthusiasts a close up of those racing ..
Corné Malan het nie net fiets gery, foto’s geneem en Comrades-marathonne gehardloop nie – hy het vier Comrades agter die blad, net so terloops – hy was ook ‘n Junior Rapportryer op sy dae, waar hy betrokke was met die totstandkoming van die Mpati-berg klimwedloop, en het op sy dae op die Bloedrivier Geloftekomitee ook gedien. Hy is al oor die 30 jaar ‘n kerkraadslid en deel van die Christian Businessmen’s Committee.
Hierdie besige tandarts het nie net bietjie bergfiets gery nie, nee. Hy het oor die lengte en breedte van Suid-Afrika aan bergfietsrenne deelgeneem, en het Suid-Afrika in 2013 verteenwoordig in die Grand Master – kategorie van 60 jaar en ouer in die Cascades Cross Country Event in Pietermaritzburg.
In 2014 wen hy die Bell Big Five MTB series in hierdie selfde kategorie in 5 x 50 km wedlope in Zoeloeland.
Hy beskryf sy lewe as ‘n reis wat hy neem.
“Die uitsig is soms asemrowend, maar dis die rit wat jou karakter bou.”
Hy het ook ferm uitgewys dat sy vrou Sylvia die een is wat die skip aan die seil hou, en sonder haar sou hulle al dood en begrawe gewees het.
Hy glo daaraan om sy lewe so vol as moontlik te lei, want daar is net een kans.
“Life behind bars..! Handlebars..!”

HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



