OP 1 Mei is die Onder-12- en O-13 Noord-KZN Rugbyproewe by Hoërskool Pionier aangebied. LMS se seuns het alles ingesit om die keurders te beïndruk.

“Ons is baie trots op Franco Jonker, wat na afloop van die proewe by die O-12 Noord-KZN Span ingesluit is, en ons wens hom hartlik geluk.”
Sport:
Die afgelope Saterdag, het LMS hokkie-, netbal- en rugbyspanne teen Egerton Primêre Skool van Ladysmith op tuisveld gespeel. Die weer het mooi saam gespeel en dit was ‘n pragtige sportdag vir die leerlinge. Uitslae is soos volg:
Rugby:
O-7A wen 20-5, O-8A wen 10-5, O-9A wen 27-5, O-11B speel gelykop 5-5 en O-11A wen 45-0. Die eerste rugbyspan het pragtig gespeel, en beide spanne kan trots wees op hul spel. Egerton wen die wedstryd 36-35.
Netbal:
O-7A verloor 0-8, O-8B wen 12-0, O-8A wen 11-0, O-9A wen 2-1, O-10A wen 8-0, O-11A wen 11-5, die tweedespan verloor 1-10 en die eerstespan verloor 7-9. Die eerstespan het ook pragtig gespeel en veral in die tweede helfte, gewys waartoe hulle instaat is.
Hokkie:
O-7B wen 3-0, O-7A wen 7-0, O-8A wen 4-0, O-9A gelykop 1-1, O-10A gelykop 1-1, tweedes wen 3-0 en die eerstespan wen 7-0, met uitmuntende spel. “Baie dankie aan al ons ouers en ander belangstellendes wat die dag ons leerlinge kom ondersteun het.”
Skoolkoor:
Die skoolkoor is tans besig om hulle voor te berei om aan die skolekompetisie, Sing in Harmonie deel te neem. Die TV-opnames word op Mei 14 te Piet Retief gemaak en LMS wens die koor baie sterkte en sukses toe.
Stoei:
Tydens die KZN-Stoeikampioenskappe te Newcastle, het van LMS se leerlinge deelgeneem en baie goed gevaar. Jano du Plessis ontvang ‘n silwer medalje en Henro Gouws, asook Dirk Booysen, spog met silwer medaljes. Dries Booysen blink uit en slaag daarin om met ‘n goue medalje beloon te word. Baie geluk aan hierdie seuns.
Program:
Mei 11 – sport teen Monument (weg), Mei 16 tot 18 – KZN-Rugbyproewe, Mei 18 – KZN Binnelande Hokkieproewe, ATKV-Redenaars en Drakensberg Minitoernooi.



