Dinsdagoggend, Mei 14, het 20 baie opgewonde Graad 4 en 5 leerlinge in die pad geval, saam met Mev. Viljoen, Williams en Catlett.
Danksy die wonderlike reën die afgelope seisoen, was die Howick-waterval ‘n pragtige gesig om te aanskou.
“Met ons aankoms in Durban het ons die Bybelhuis en Minitown besoek. Hoe heerlik was dit nie vir ieder en elk om by “Ocean Villa” te slaap nie; baie naby aan die strand met die geruis van die see in ons ore!”
Die suikerterminaal, die Sarie Marais Toere se bootrit in Durban se hawe, en die Umgeni-voëlpark het kleur aan die toer gegee. Moenie van die krokodilplaas, Crocodile Creek, waar die aanbieder al twee vingers verloor het vergeet nie – darem nie as gevolg van krokodilbyte nie!
‘n Besoek aan die Haairaad, wat die disseksie van ‘n dooie haai ingesluit het, het menige sensitiewe Graad 4- en 5-leerling laat sidder.
Vrydagoggend het 20 moeë kindertjies vir oulaas die dolfynvertoning en akwarium by ‘uShaka Marine World’ besoek voordat die besige pad terug Dundee toe aangedurf is.
Die personeel bedank die pragtig-gemanierde kinders vir hulle meelewing en hulpvaardigheid tydens die toer.
“Dit was ‘n groot plesier om hulle saam op die skooltoer te neem. Die skool bedank die personeel en Mev. Catlett wat die groep vergesel het. Ons is dankbaar teenoor die Here vir ‘n wonderlike, geseënde toer in Durban! Aan God al die eer!”

HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



