DUNDEE KZN: Die skote klap by Mpungini Skietklub se nuwe skietbaan
Elke deelnemer het die geleentheid gekry om hulle skietvernuf op twee teikens, naamlik die blouwildebees en die springbok, te vertoon

Op Saterdag, 20 Maart, het die SA Jagters Mpungini Skietklub hul jaarlikse Presidentskiet aangebied.
As gevolg van die huidige Covid-19 pandemie kon die Presidentskiet nie verlede jaar plaasvind nie, dus was die lede ywerig om aan vanjaar se kompetisie deel te neem. Met Mnr Kirchner (‘n verteenwoordiger van SA Jagters Hoofkantoor) wat besoek kom aflê het, was dit ‘n prentjiemooi, warm dag waar 61 skuts van heinde en verre, deelgeneem het.
Die skote het behoorlik geklap en die kompetisie was taai. Elke deelnemer het die geleentheid gekry om hulle skietvernuf op twee teikens, naamlik die blouwildebees en die springbok, te vertoon. Uiteindelik was dit een van ons eie lede, Mnr Sarel Meyer, wat as kampioen gekroon was met ‘n telling van 640.1 uit ‘n moontlike 720. By die dames, was dit Mev RM Fourie wat met goud weggestap het.

Front: Magda Potgieter, Meliska Herbst, Cornette Meyer.
Onder die senior mans was Mnr Chris de Jager as wenner gekroon, en Mnr SW Meintjies (Jnr) die wenner onder die jong latte. Mpungini is toegewei aan die ontwikkeling en deelname van juniors en veral dames. Dit is met trots dat ons ook vir Brice Jones geluk wens as ons jongste skut (12 jaar oud) wat ‘n totale telling van 400.07 geskiet het.

Die klub is ook baie trots op sy eerste dames-span (Glitter & Gunpowder) wat die algehele vyfde plek behaal het. Die manne moet ligloop, die dames is aan die brand! Ons wil graag die Mpungini Komitee bedank wat baie ure en moeite ingesit het om ‘n groot sukses van hierdie belangrike kompetisie te maak. Sonder elkeen se insette en bydrae, was dit ‘n onbegonne taak.

Hierdie skietklub groei van krag tot krag en is ‘n reuse aanwins vir die omgewing en die skietgemeenskap!
Leeu-gat skietbaan is nou behoorlik ingewei en die SA Jagters Mpungini Tak is vreeslik opgewonde oor die blink toekoms wat hierdie skietbaan inhou!

HAVE YOUR SAY: Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



