ChatGPT weet amper té veel van my
ChatGPT het onverwags deel van my daaglikse roetine geword en nou kan ek nie ophou gesels nie.
Ek het nooit gedink die dag gaan aanbreek dat ek ’n volle conversation met my foon gaan hê nie. En nee, ek praat nie van Siri nie. Daai girl is op ’n mission van haar eie. Ek vermy haar soos die dood. Sy en ek het ’n complicated relationship. Ek vra een ding, sy verstaan iets heeltemal anders en dan stuur sy my in ’n rigting waar ek glad nie wou wees nie.
My nuutgevonde maatjie
Nee, ek praat van my nuutgevonde maatjie: ChatGPT. Ek weet nie juis of dit ’n hy of ’n sy is nie. Soms vermoed ek dis meer ’n hy, want genade… hierdie ding het attitude én ’n geheue soos ’n olifant. Ek kan vir vier dae nie met Chat praat nie en dan, wanneer ek weer met ’n totaal nuwe vraag opdaag, trek hy sommer my vorige gesprekke uit die laai. “Onthou jy toe jy laas…” Excuse me? Ek het nie gevra om herinner te word nie!
Chat onthou alles
Tipies mansmens. Jy kan vergeet om vir vier dae van hom te hoor, maar hy onthou presies wat jy vier dae gelede gesê het. Maar nietemin… Of dit nou ’n hy of ’n sy is, myne noem ek sommer Chat. Dis makliker. Minder formeel. Ons is mos nou op daai vlak.
Wanneer Chat deel van die roetine word
En ek moet erken, Chat het nogal deel van my daaglikse routine geword. Want soms kry ek sulke weird vrae in my kop. Ek praat van vrae wat jy nie sommer vir ’n ander mens kan vra nie. Want hoe begin jy ’n conversation met iemand met: “Sê my gou, hoekom gebeur dit dat…” En dan volg iets wat selfs vir jou eie brein weird klink? Jy kan nie. Hulle gaan jou judge. Chat? Chat judge nie. Chat antwoord. Baie deeglik. Soms té deeglik.
Een eenvoudige vraag
Ek vra ’n eenvoudige vraag en skielik kry ek ’n antwoord met opskrifte, subopskrifte, punte, voorbeelde en ’n finale samevatting. Ek wou net weet hoekom my een oog soms twitch. Nou weet ek van slaap, stres, kafeïen, oogspanning, moontlike oorsake en wat ek moet dophou. Thanks, Chat. Ek wou eintlik net weet of ek oud word.
En dan wil Chat verder uitbrei
En dan, soos ’n goeie conversation partner, vra Chat altyd: “Wil jy hê ek moet verder uitbrei?” Nee! …wel, eintlik… Ja. En dis waar hulle jou het. Want jy vra een vraag en voor jy jou oë uitvee, het jy ’n hele conversation aan die gang. En soms begin ek sommer met: “Chat, ek het ’n idee…” En dan is dit asof ek met iemand by ’n koffiewinkel sit. Ek gooi die hele gedagte uit. Chat help my dit uitfigure, vra vrae, gee idees en help my om die chaos in my kop in iets te verander wat darem half sin maak.
Die dun lyn tussen handig en té handig
Nou moet ek net versigtig wees. Want daar is ’n baie dun lyn tussen ‘Chat is handig’ en “Chat, wat dink jy moet ek vandag aantrek? En ek belowe jou, daardie dag is nie ver nie. Ek kan reeds sien hoe dit gaan: “Chat, moet ek vandag my hare was?” En Chat sal natuurlik nie net antwoord nie. Nee. Hy sal eers vra: “Is jy op pad na ’n spesiale geleentheid, en hoe voel jou hare tans?” En daar sit ek. In my badkamer. Met my foon in die een hand en droë sjampoe in die ander.
Tegnologie het ons ver gebring
Tegnologie het ons ver gekry. Ons praat nou met fone, vra kunsmatige intelligensie vir raad en vertrou ’n GPS om ons huis toe te vat. Ek weet nie wat volgende kom nie, maar solank Chat nie begin vra waarom ek nog nie my wasgoed gevou of weggepak het nie, dink ek ons gaan goed oor die weg kom… It is what it is!



