Dibi slaan nuwe spanningsvolle rigting in met nuwe boek
Die boek sal beslis haar huidige sowel as nuwe aanhangers se nuuskierigheid prikkel

Die ATKV-tak Vryheid het verlede Donderdagaand ‘n spoggerige funksie ter ere van Dibi Breytenbach se nuwe boek, Buit, aangebied. Bekende skrywer en RSG radiopersoonlikheid, Ilze Zalzwedel het ‘n onderhoud met Dibi oor haar ink-vars-boek gevoer. Die twee dames is oud kennisse en die kwinkslae en humor het die gehoor laat skater te midde van Dibi se naelbyt-spanningsverhaal.
Die nuwe boek slaan ‘n nuwe rigting in, in vergelyke met Dibi se vorige ses speurverhaalboeke. Die boek rou en opreg en metafories in die sin van Afrika wat uitgebuit word deur Europa en ander Eerste Wêreldlande. Die eerste voorbeeld hiervan spring uit in die vorm van die bloeddorstige kanibalistiese reeksmoordenaar wie op Afrika-vroue teer deur hul te vermoor, uitmekaar te verskeur en dan te verorber. Soos Ilze spottende verwys; daar is altyd ‘n lyk of 60 in Dibi se boeke. Hierdie is slegs een van die verskeidenheid en uiteenlopende karakters in Buit.
Die boek speel in Mosambiek af en Dibi verduidelik hoe sy moes navorsing doen omtrent die land en sy inwoners. Dit het haar tot skok laat besef dat sy niks van die land en nog minder van die oorlog wat tans daar plaasvind, weet nie. Met intense navorsing en werklike tyd inligting, het Dibi emosioneel betrokke geraak by die omstandighede en die mense in Mosambiek. “Die kanse dat ek ooit in Mosambiek sou uitkom, was besonder skraal. Ek moes alles gaan navors, van hoe die paaie lyk tot watse klere die mense daar dra en watse tipe goggas daar is. Ek het aanvanklik vreeslik baie opgelees oor die land, en spesifiek die noordelike Cabo Delgado-provinsie. Beskikbare inligting op die internet was net so skaars. Ek het egter gou agtergekom dat inligting oor die area en spesifiek die insurgensie maar min was, aangesien die Mosambiekse regering op daardie stadium joernaliste die area verbied het en hulle selfs in die tronk gegooi het. Ek het kontak gemaak met Hendrik Hancke van Rapport. Hy was een van die eerste joernaliste wat destyds oor die moontlike ISIS-betrokkenheid by die insurgensie in Mocimboa da Praia geskryf het. Hy het my verwys na Joe van der Walt van Focus Group. Joe is ’n internasionaal gerekende kundige oor die veiligheidsituasie in Mosambiek.” Met hierdie kosbare, maar ontstellende inligting kon Dibi ‘n werklik-soos-dit-gebeur en feitlik korrekte mileu vir haar boek skep.
Die boek sal beslis haar huidige sowel as nuwe aanhangers se nuuskierigheid prikkel, maar ook die leser op die puntjie van sy/haar stoel hou. Die boek is aanlyn, asook in toonaangewende boekwinkels beskikbaar.
Dibi is alreeds besig om aan haar volgende boek te skryf. “Ek móét skryf. Dit is veiliger vir almal rondom my as ek skryf – veral vir my gesin, omdat ek andersins vir hulle werk uitdink om te doen. Of ’n algemene irritasie raak.”
ALSO READ: Naelbyt Plattelandse Pennevrug
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.
Click to receive news links via WhatsApp. Or for the latest news, visit our webpage or follow us on Facebook and Twitter. Join us there!



