‘n Deernisvolle huldeblyk aan ‘n ou bekende
Hy het ‘n besondere humorsin gehad en was altyd reg met ‘n grappie of twee
Louis Lötter het ons vooruitgegaan… Sy afsterwe was onverwags en ‘n skok vir almal wat van hom geweet het, hom geken het en hom lief gehad het.
Louis sal onthou word vir sy deursettingsvermoë, sy positiwiteit, sy ywer, sy hulpvaardigheid, sy besondere humorsin, sy omgee vir ander, sy doelgerigtheid, sy liefde vir kinders en as ‘n gesinsman.
Van postuur was Louis nie ‘n groot man nie, maar sy hart was groot en as mens en in sy optrede, was hy ‘n reus.
Waar Louis ookal was het ‘n mens van sy teenwoordigheid bewus geword. Mens het van sy teenwoordigheid bewus geword omdat hy ‘n doener en leier was.
In sy lewe het hy voor baie uitdagings te staan gekom. Hierdie uitdagings het hy met deursettingsvermoë die hoof gebied en altyd as ‘n sterker mens aan die ander kant uitgekom. Louis was van natuur ‘n positiewe mens wat ander mense kon besiel en aanspoor tot sukses en om nuwe hoogtes te bereik.
Ek was bevoorreg om vir bykans 20 jaar saam met Louis by skoleskyfskiet betrokke te wees. Hy het begin as afrigter by een van Vryheid se hoër skole en vinnig gewys dat hy ‘n kenner op sy gebied is. Menige skoolkind is deur Louis afgerig en kon so deel in sy kennis. Die kinders het vinnig vir Louis lief geword en daar was vele kinders vir wie hy ook ‘n berader was. Louis het dan ook die kinders toegerus met kennis en vaardighede wat hulle in staat gestel het om puik prestasies op provinsiale- en nasionale vlak te behaal. Tydens Louis se tydperk as afrigter by die skool, het die skool dan ook jaar na jaar as topskool uit die stryd getree by die provinsiale kompetisies – iets wat hom tot op hede, nog nie nagedoen kon word nie. Hy het ook uitgestyg en op provinsiale vlak as voorsitter van skoleskiet, ‘n leidende bydrae gelewer om skoleskiet in die provinsie te versterk en te laat groei, net nadat die sport bykans doodgeloop het op skolevlak.
Louis was in sy werk en in sy sport ‘n ywerige man wat ander altyd kon besiel en motiveer. Sy liefde vir pragtige Clivias het hy uitgebou tot ‘n onderneming waarop hy met reg trots was. Maar, vir Louis het dit nie net oor die sukses gegaan nie, nee, die mooi van sy Clivias was altyd vir hom die belangrikste en hy het nooit geskroom om plante en saad gratis weg te gee nie, want iemand anders se vreugde het hom plesier gegee.
Hy was ook die voorsitter van die Vryheid Clivia Belangegroep .Hy het ‘n groot liefde gehad vir skiet en jag ook, en hy sal ook baie gemis word op die skiet baan .
Hy het uit sy pad gegaan om mense en kinders te help. Hy was gasvry en kon ander met goedheid oorlaai. Hy het ‘n besondere humorsin gehad en was altyd reg met ‘n grappie of twee, menigmaal ten koste van homself.
Louis sal ook onthou word as ‘n gesinsman. Sy vrou en kinders het, naas God, sentraal in sy lewe gestaan. Die beste tye in sy lewe was die tye wat hy met Wilmarie, Jeanrie en Paul kon deurbring. Hy het ook altyd met groot liefde en respek van sy ouers gepaat. Op sy skoonseun was hy ook baie trots en was hy ook lief vir hom. Dan die kleinkinders; hulle was Louis se oogappels en hy kon nie genoeg foto’s van hulle stuur of oor hulle praat nie.
Louis was ‘n nederige, eerlike en opregte mens. Louis was ‘n plat op die aarde mens… Ons eer sy nagedagtenis.
– Riaan Kritzinger
ALSO READ: Tributes pour in after passing of South African icon, Dr Mangosuthu Buthelezi
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



