Marnie rus sag tussen haar gunsteling Krismisrose
Marnie is Sondag vanuit ‘n stampvol Klipkerk ter ruste gelê

Martha Jacoba van Niekerk (Marnie)
8 Junie 1983 – 6 Januarie 2025
Die gemeenskap is geruk deur die skielike afsterwe van Marnie – ‘n stralende, onbaatsugtige en sprankelende vrou wat haar plek in haar gesin en familie se lewens asook in die gemeenskap vol gestaan het. Daar is soveel mooi dinge wat oor Marnie gesê en onthou kan word, maar een ding het bo alles uitgestaan; Marnie het geleef vir haar drie kinders, Anike, Lin-Mari en AC. Haar betrokkenheid in hul elkeen se lewe was duidelik sigbaar wanneer sy hul aangemoedig het op die atletiekbaan, haar bywoning by ‘n prysuitdeling of moed ingepraat het na ‘n moeilike dag by die skool. Sy was ‘n steunpilaar vir haar familie en gesin. Haar klokhelder en uitbundige lag sal nooit stil wees in dié wie sy agterlaat se lewens nie. Sy laat ‘n groot leemte in baie mense se harte want Marnie was daardie ‘een-in-‘n-miljoen’-vrou wie mense om haar se lewens positief aangeraak het, sonder dat sy dit besef het.
Haar kinders skryf ‘n finale woord aan hul dierbare mamma: ‘Dankie dat mamma vir ons en Liewe Jesus geleef het. Dankie vir elke oggend se vieruur opstaan om vir ons kosblikke te pak. Dankie vir elke uittrapsessie en soen op die kop. Dankie vir elke les…’
‘Gaan dans in die see, met ‘n bos Krismisrose in Mamma se hande met die sonsopkoms wat Mamma vir niks sal mis nie.’
Rus sag, Marnie…
Marnie is Sondag (12 Januarie) vanuit ‘n stampvol Klipkerk ter ruste gelê, waar haar troosdiens deur haar pa, dominee Ferdinand van Niekerk, waargeneem is.
ALSO READ: Anglers pay fond tribute to pioneering Kidd Rampersadh
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.