Helpende Hand ondersteun sukkelende gesinne in Endumeni
Helpende Hand ondersteun kwesbare gesinne in Endumeni deur projekte, ’n liefdadigheidswinkel en hulp aan skoolkinders.
Die armoede in die gemeenskap neem toe. Swak ekonomiese toestande en min werksgeleenthede dwing baie gesinne tot uiterstes. Die mees kwesbares, kinders en bejaardes, dra die swaarste las. Baie skoolgaande kinders gaan honger skool en bed toe.
In Endumeni bied Helpende Hand, ‘n landswye organisasie met 200 takke, ‘n hand. Die plaaslike tak het onder die leiding van voorsitter Anthony Groenewald van die grond af begin.
Die ‘Ons Winkel’, op die hoek van Karel Landman- en Annstraat, is die hart van die tak se aktiwiteite. Hier word fondse ingesamel om behoeftige mense te help, en hier kan mense klere, huishoudelike artikels, boeke en selfs die spreekwoordelike ‘naald in ‘n hooimied’ teen billike pryse koop.
Die publiek kan ook skenk, en skenkers ontvang ‘n R50-terugbetaalbare koepon as ‘n blyk van waardering. Die winkel, wat in 2022 in Dundee geopen is, word bestuur deur twee vriendelike mense, Chantal en Marno Mulder.
Anthony en sy adjunkvoorsitter, Johan Stander, werk nou aan die opbou van die komitee en hoop om lede te werf. Lidmaatskap kos slegs R50 per maand en gee mense die geleentheid om hande uit te steek na diegene wat dit die nodigste het.
Plaaslike organisasie fokus op hulp aan kwesbare kinders
“Ons fokus is op skoolkinders. As ons die jongmense van jongs af reg ondersteun, hoef ons nie later vir hulle te sorg wanneer hul volwassenes is nie. Baie kinders word deesdae groot sonder ‘n stabiele gesin,” sê Anthony.
Kinders en gesinne in nood word meestal deur skole geïdentifiseer, maar Anthony en Johann is bereid om te help waar hulle bewus raak van ‘n behoefte.
“Voordat ons betrokke raak, word ‘n agtergrondondersoek gedoen deur Helpende Hand se hoofkantoor om te verseker dat die hulp regtig nodig is. Ons bied byvoorbeeld hulp deur ‘n skooltas- en uniformprojek, help mense om werk te vind en ons kan selfs verdienstelike skoolverlaters deur ‘n opleidingsprogram by Sol Tech plaas. Hierdie kursusse gee kwalifikasies in ambagte, Rekenaartegnologie en ander velde wat ‘n werkbare toekoms moontlik maak.”
Lidmaatskap by Helpende Hand is nie veeleisend nie. “Jy kan so aktief wees soos wat jy wil, of net stil ondersteun – albei is waardevol.”
Huidige fondsinsamelingsprojekte sluit ‘n tombola en ‘n wintersprojek in om behoeftige mense gedurende die koue wintermaande by te staan.
“Daar is baie mense wat ‘n verskil wil maak in die gemeenskap, maar nie weet hoe om betrokke te raak nie. Ons nooi hulle uit om kontak te maak. Alle fondse wat plaaslik ingesamel word, word ook plaaslik aangewend – geen administrasiekoste word afgetrek nie,” sê Groenewald.
Skakel Anthony op 074 445 7110 of Johan op 082 387 1693 vir meer inligting oor hoe jy kan help.
HAVE YOUR SAY: Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



