Pionier is borsbarstrots op redenaars
Die ander sprekers het ook uiters goed gevaar

1. REDENAARS
Hoërskool Pionier is supertrots op ons redenaars. Nie net een nie, maar sommer twee sprekers het na die ATKV se finale rondte, wat in Augustus by die ATKV Goudini Spa gehou word, deurgedring. Wat hierdie prestasie uitsonderlik maak, is die feit dat daar in KZN slegs een spreker uit elke kategorie gekies word om aan die SA-kompetisie te deel te neem.
Ons sê baie geluk aan Mia Bosman, wat eerste in die Graad 8-9 Huistaal voorbereide afdeling en Susan Gregory, wat eerste in die Graad 10-12 Huistaal onvoorbereide afdeling, was.
Ons ander sprekers het ook uiters goed gevaar. Mia Pienaar was tweede en Leandri Grobler sewende in die Graad 8-9 Huistaal voorbereide afdeling. Susan Gregory eindig sesde in die Huistaal voorbereide afdeling en Aimee Bosman negende. Lianca Landman eindig derde in die Graad 10-12 Huistaal onvoorbereide afdeling .
Welgedaan, dogters! Ons is baie trots op julle.
2. RUGBYSPELERS OM DOP TE HOU
Heinrich Grobler, Rohan Delport en Cobus van der Westhuizen is by die O/19-Noord-Natal-rugbyspan ingesluit, wat 25-30 Junie na Reitz toer om aan die VKB-rugbytoernooi deel te neem. Hierdie rugbyspan sal ook die voorreg hê om onder andere teen die Sharks Invitational-span te speel.
Heinrich, Rohan en Cobus, Pionier is baie trots op julle, want dit is ‘n besondere prestasie. Geniet die toer en wys wat ons weet: julle is drie rugbysterre van Pionier.
Pionier se rugbyhart bars nog verder van trots, want die volgende seuns is gekies om in die o.16-Noord-Natal-rugbyspan te wees: Gerber Diedericks, Jacques Richter, Jean Koekemoer en Stephan Nel.
Hulle sal vanaf 25-28 Junie onder die bekwame afrigting van ‘n trotse Pionier-personeellid, mnr. Clifferd Jacobs, na Frankfort toer. Die bestuurder van die span is ook ‘n Pionier-personeellid, mnr. André Spies. Ons wens die afrigter, bestuurder en span ‘n ongelooflike toernooi toe. Mag julle span van krag tot krag gaan en puik uitslae in jul guns ontvang.
3. ONS EIE KARATE KID
Robert Price het aan die NKZN-JKA-karatetoernooi in Newcastle deelgeneem. Hy het twee silwer medaljes vir kata en kumjuta verwerf. Robert het die besondere eer verwerf om vir die JKA-SA-kampioenskappe, wat in Julie in Johannesburg plaasvind, gekies te word.
Robert, ons wens jou alle sterkte toe. Pionier staan bankvas agter ons karatekampioen. Jou prestasie getuig van deursettingsvermoë, harde werk en jarelange opoffering. Mag dit met jou baie goed gaan.
ALSO READ: Pionier spog met uitstekende leerders
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



