SchoolsVryheid Herald

Pionier hou Sport- en Kultuurprysuitdeling

Die aand was nie net 'n viering van prestasies nie, maar ook 'n herinnering aan die belangrikheid van sport en die lewensvaardighede wat dit ontwikkel

Op Donderdagaand, 10 Oktober, het Hoërskool Pionier weer die voorreg gehad om reg aan al ons sport-en-kultuur-uitblinkers te laat geskied. Oudergewoonte word dit weer ‘n laat, dog ‘n geseënde aand, met meer as 200 ouers en belangstellendes wat saam met ons pryswenners, vir ‘n stampvol saal gesorg het.

Tradisioneel het ons weer ‘n uitsonderlike eregas verwelkom. Vanjaar se gasspreker was uniek en op ons leerders se vlak, wat ouderdom betref en is maar net 17 jaar oud. Sy het beslis vir elke persoon daar teenwoordig stof tot nadenke gegee. Danika Vyncke het so onlangs soos verlede maand nog aan die Paralimpiese Spele in Parys, Frankryk, deelgeneem. Haar liggaamlike tekortkoming is die feit dat sy uiters swaksiende is. Soveel so dat sy tans minder as 20% sig het. Daarom het sy by die Spele aan die S13-kategorie deelgeneem. Sy het water in haar teenstaanders se oë geskop toe sy agste in die wêreld geplaas is, danksy die 100m- en 400m- borsslag, waarin sy uitblink. Wat Danika se teenwoordigheid so besonders maak, is die feit dat ons haar nie van elders in die land af ingevoer het nie, nee, sy is ‘n sportster uit ons eie midde. Iemand wat in Vryheid wortelgeskiet het. Sy het net weereens bewys dat geen tekortkoming of liggaamlike gebrek ‘n mens moet onderkry nie. Sy is ‘n inspirasie en voorbeeld vir jonk en oud. Dankie Danika, weereens, dat jy, te midde van ‘n eksamen en baie strawwe oefenprogram, tyd vir Pionier ingeruim het. Ons hou jou swemloopbaan met arendsoë dop en wens jou verdere sukses toe.

Baie geluk aan elke Pionier, wat dwarsdeur die jaar jou bes op sport- en/of kultuurvlak gelewer het.

Die top kultuurtrofeëwenners is as volg:

CW Smit Wisseltrofee vir Mees Uitstaande Kultuurprestasie – Fihli Tsotetsi
Kultuurpersoonlikheid 2023 – Fihli Tsotetsi

Leandri Grobler het een van die aand se groot wenners geword deur die toekennings vir die mees veelsydige sportprestasie en sportdogter van die jaar in te palm. Haar toewyding en hardwerkendheid in verskeie sportsoorte het daartoe gelei dat sy hierdie toekennings ontvang.

Nash Olivier het ook sy naam in die annale van ons skool geskryf deur die trofee vir beste prestasie vir die jaar te ontvang, sowel as die titel van sportseun van die jaar. Sy uitmuntende prestasies het bewys hoekom hy hierdie toekennings ontvang het.

Die aand was nie net ‘n viering van prestasies nie, maar ook ‘n herinnering aan die belangrikheid van sport en die lewensvaardighede wat dit ontwikkel. Ons sien daarna uit om te sien wat die volgende jaar vir ons jong atlete inhou!

ALSO READ: Pionier-krieket gaan van krag tot krag

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button