Vryheid Pluimbalklub – ‘n Nuwe komitee vir 2015
Die nuwe bestuur hoop om vanjaar weer ’n baie suksesvolle jaar vir pluimbal in Noord-Natal te maak.

OP 23 Januarie is die Noord-Natal Algemene Jaarvergadering op Vryheid gehou.
Tydens hierdie vergadering is die volgende persone as lede van die Noord-Natal Komitee gekies: Johann Coetzee (voorsitter); Anita Scholtz (sekretaresse); Ryno Scholtz (ondervoorsitter); Johan Kruger (penningmeester) en Edgar Beneke (addisionele lid). Die Noord-Natal keurders is Johann Coetzee, Andries van Eck en Johan Kruger.
Op Vrydag, 20 Februarie, vind die maandelikse Noord-Natal komiteevergadering op Ladysmith plaas en vir die eerste maal sal klubs van Estcourt en Harrismith ook hierdie vergadering bywoon. Tydens hierdie vergadering sal die beplanning vir die 2015-seisoen gefinaliseer word. Die eerste toernooi vir die jaar is die Johann Birkenstock Herdenkings-toernooi wat op 28 Maart in Vryheid gehou sal word. Meer inligting oor hierdie toernooi sal later in die koerant verskyn.
Ander toernooie wat vanjaar plaasvind is: 19-24 April – SA Silwer Arende (Johannesburg); 16-23 Mei – SA Meesters (Oos-Londen); 7-13 Junie – SA Goue Arende (Kimberley); 8-14 Augustus – SA Veterane (Bloemfontein); 6-12 September – SA Groot Meesters (Kimberley); 12-19 September – SA Melville Beker (Bloemfontein) en SA Plattelandse Toernooi (Secunda). Die datums vir Die Noord-Natal A-Kampioenskappe (geslote) asook die Noord-Natal B- en C- kampioenskappe sal binnekort verskaf word.
Vryheid Impala Pluimbalklub het elke Maandag en Woensdagaand om 6:00nm kluboefeninge by die Eeufees Sportsentrum te Cecil Emmett Park. Al spelers, oud-spelers, beginners asook sosiale spelers is welkom om te kom saamspeel. Rakette en pluimpies word deur die klub voorsien. Dit was ook baie lekker om Stephanie, een van ons voormalige Noord-Natal spelers weer op die baan te sien.
Die nuwe bestuur hoop om vanjaar weer ’n baie suksesvolle jaar vir pluimbal in Noord-Natal te maak.



