Noord Natal Pluimbalunie – Suksesvolle kampioenskappe en toernooi
Dit is duidelik dat daar ’n groot oplewing in pluimbal in Noord-Natal is en alle oud-spelers of beginners is welkom om by hul klub in die dorp waar hulle woon te gaan speel.

TYDENS die Noord-Natal ‘B’ kampioenskappe te Ladysmith het ’n groot getal spelers van oor die hele Noord-Natal gekompeteer om die die verskillende titels.
Die uitslae lyk as volg: Ryno van der Merwe en Emile Diedericks (Vryheid) het die titel vir die mans dubbels gewen deur die baie sterk paar van Ladysmith, Andries van Eck en Craig Chetty, in ‘n baie spannende finaal met 21-12, 12-21 en 24-22 te klop. In die mans enkels het Ryno in drie stelle teen Craig Chetty verloor 12-21; 21-12 en 21-11.
Die dames enkels is in die finaal uitgespook tussen Andrea Erasmus (Ladysmith) en Stefani Schwartz (Vryheid) en die telling was met 21-17 en 21-14 in Andrea se guns. Anita Stoltz het ook goed gevaar deur tot in die finaal van die dames enkels se plaat te vorder. Stefani Schwartz en Anita Stoltz het in die dames dubbels finaal teen die baie ervare Andrea Erasmus en Lettie du Plessis van Ladysmith met 8-21 en 7-21 verloor. In die gemengde dubbels het Andries van Eck en Andrea Erasmus (Ladysmith) daarin geslaag om die kampioene te word deur Momo en Hyesha (Harrismith) in die finaal met 21-11, 10-21 en 21-13 te verslaan. Spel van goeie gehalte is gelewer en spelers soos Johnny Kossmann (Ladysmith), Zia, Tahir, Anita Stoltz en Bianca (almal van Vryheid) het ook goed gevaar. Daar is duidelik baie talentvolle pluimbalspelers in Noord-Natal. Ladysmith Puimbalklub en veral Andries van Eck word hartlik bedank vir die beskikbaarstelling van die saal en ook die puik organisering van hierdie kampioenskap.
Noord-Natal Toernooi: Die afgelope Saterdag is ’n dubbels- en gemengde dubbels toernooi in Vryheid gehou. Spel het 11:00vm begin en teen 7:00nm die aand was al die spelers stokflou gespeel, maar almal het dit baie geniet. Maats is getrek om saam met mekaar te speel en tydens die middel van die spel het spelers maats geruil. So het almal teen mekaar en saam met mekaar gespeel. ’n Baie aangename gees het geheers en dit was beslis ’n dag waarop pluimbal in Noord-Natal bevorder is. Na afloop van die toernooi is ’n baie vrugbare Noord-Natal komiteevergadering gehou waarna daar heerlik saam gebraai en gekuier is. Vryheid Impala Pluimbalklub en veral Gerhard en Marie word hartlik bedank vir die beskikbaarstelling en voorbereiding van die saal asook met die verskaffing van heerlike pap-en-sous en slaaie. Nog sulke toernooie word vir later vanjaar in Harrismith, Ladysmith en weer in Vryheid beplan.
Datums van kampioenskappe: Alle spelers moet daarop let dat die A-Kampioenskappe op Saterdag, 11 April om 2:30nm, op Newcastle sal plaasvind. Alle spelers wat daarin wil speel moet teen Donderdag, 9 April (voor 12:00) inskryf by Anita Stoltz of Johann Coetzee. Alle spelers in Noord-Natal kan inskryf vir hierdie kampioenskappe wat ook gebruik sal word om die Noord-Natal spanne te kies wat in Julie aan die SA Plattelandse Interprovinsiale toernooi in Secunda sal speel. Die C-Kampioenskappe word beplan vir Meimaand – besonderhede sal binnekort verskaf word. Alle spelers wat belangstel om liga te speel moet asseblief seker maak dat hulle hul name by hul klub se voorsitters ingee.
Alle spelers wat aan hierdie kampioenskappe en toernooi kom deelneem het, word hartlik bedank. Dit is duidelik dat daar ’n groot oplewing in pluimbal in Noord-Natal is en alle oud-spelers of beginners is welkom om by hul klub in die dorp waar hulle woon te gaan speel.



